Willem reik na die sterre

Rekord het met Willem Botha gaan gesels oor sy rol, liefde vir teater en toekomsplanne.

Aanhangers hang reeds vir jare aan sy lippe en fliekgangers het hom vir die eerste keer in die musiekfilm Liefling leer ken. Deesdae is die sanger en akteur Willem Botha terug, dié keer as die hoofrol in die splinternuwe musiekblyspel Reik Na Die Sterre wat beloof om jou tone behoorlik te laat omkrul van lekkerte. Die storielyn is losweg gebaseer op die lewe van ‘n atletiese tiener, Stefan, wat op soek is na die betekenis van ware liefde en nog moet leer dat daar baie oorloë op ‘n mens se liefdespad kan wees. Hy ontmoet die nuwe meisie in die dorp, Jana, en raak dadelik op hierdie 19-jarige skoonheid verlief. Maar niemand het ooit gesê om verlief te wees, gaan maklik wees nie. Veral nie as die meisie se pa ‘n militaristiese tiran is nie. En ook nie as ‘n terminale siekte skielik deel word van almal se realiteit nie. Sal hy as oorwinnaar uit die stryd tree in die oorlog wat hy moet veg? Sal hy die toekoms kan intuur en Reik Na Die Sterre?

Rekord het met Willem gaan gesels oor sy rol, liefde vir teater en toekomsplanne.

Waar en wanneer het die teatergogga die eerste keer gebyt?

My ouers het my reeds van kleins af geneem om teaterstukke te gaan kyk en een van die eerste opvoerings wat ek kan onthou was Summer Holiday by die Artscape Teater in Kaapstad met Steve Hofmeyr in die hoofrol. Daar het ek besef ek het n liefde vir toneelspel en teater.

Kan jy nog jou eerste rol onthou – wie of wat het jy gespeel?

My eerste rol was toe ek André Viljoen in die Deon Opperman-produksie Tree Aan vertolk het. Dit was ‘n ongelooflike leerskool en gewis ‘n rol wat my altyd sal bybly.

Waar was jy toe jy hoor jy is vir die rol van Stefan gekies?

Ek het die vorige aand in die Kaap geshow en die mense van Smash Hit Company het my gebel en gevra of ek hulle kan kom sien. Ek was dadelik angstig en kon nie wag tot die volgende dag nie. Toe ek land, is ek direk na hulle toe en daar het ek die goeie nuus gekry.

Met wie het jy die goeie nuus eerste gedeel?

Ek moes dit stilhou vir ‘n week maar het darem my ouers laat weet

Vertel ons bietjie van die karakter ‘Stefan’ wat jy in die blyspel vertolk?

Stefan as karakter is nie soveel anders as wat ek as mens is nie. Hy is iemand wat opstaan vir sy vriende en veg waarin hy glo.

Hoe berei jy vir jou rol as ‘Stefan’ voor?

Die belangrikste vir my is altyd om te sien en voel vanwaar die karakter kom. Stefan het klomp dinge wat in sy pad staan maar hy laat nie toe dat iets hom onderkry nie. Dit help om die karakter beter te verstaan.

As sanger is jy gereeld op die verhoog, pla die senuwees nog soms?

Ja, altyd! En veral met ‘n teaterstuk waarin ek moet sing, dans en toneelspeel. Daar is altyd vlinders.

Het jy enige bygelowe of gelukbringers wanneer dit by die verhoog kom? Rituele wat jy moet doen voor jy op die verhoog kan verskyn?

‘n Aantal jaar gelede het ek te veel bygelowe gehad en dit het my later voor vertonings begin beheer. Ek het toe opgehou met al sulke dinge. Al wat ek nou doen, is om min te praat want ek sing bitter baie in hierdie produksie. So, as ek nie hoef te praat nie, bly ek stil. Hêhê.

Is daar ‘n rol waaroor jy droom om nog eendag te speel?

Ek geniet dit om swaar dramarolle te doen soos in Tree Aan en Donkerland en sal nie omgee om meer van hulle te hê nie.

Hoe is dit om die verhoog met groot name soos Sarah Theron en Richard van der Westhuizen te deel?

Ek het groot geword met hulle musiek en, hoewel dit soms oorweldigend kan wees, is dit vir my ‘n groot eer.

Wat kan ons volgende van Willem Botha verwag?

Ek het n splinternuwe liedjie, Iemand As Jou Hart Breek, uit wat baie goed op die radiostasies doen. Dan sien ek ook natuurlik daarna uit om in September in België te gaan toer. Ek gaan drie shows in België te doen. In Augustus toer ek en Pieter Koen saam en dan doen toer ek weer later die jaar saam met Dewald Wasserfal en Monique.

Related Articles

Back to top button