Jakarandadag reuse sukses

Dié jaar se Jakarandadag het van met die beste musiekkunstenaars gespog.

Jakarandadag 2014 was ‘n reuse sukses Sarerdag met verskeie geliefde musiekkunstenaars en sanggroepe wat Pretorianers se harte warm op maat van die musiek laat klop het.
Supersport Park was stampvol aanhangers met hul geliefde sangers toegejuig en in volle bors saamgesing het.
Die dag het om 12:00 afgeskop met Monark, wat dié jaar vir die eerste keer by Jakarandadag te sien was. Die groep se hoofsanger, Eugene Coetzer, het met Rekord gesels oor hul optrede en verdere planne vir 2014. “Dit was ongelooflik en die gehoor se reaksie was fantasties. Ons gaan vir eers bietjie Potchefstroom toe en dan na Bloemfontein, maar in Julie gaan ons weer terug wees in Pretoria, waartydens ons ook ons nuwe CD bekend gaan stel,” het Coetzer gesê. Waar en wanneer die nuwe CD-bekendstelling sal plaasvind is nog ‘n verrassing, het Coetzer gelag.
Die Tuindwergies was volgende aan die beurt, met wat voorlopig hul laaste optrede vir die volgende sowat twee jaar sal wees. Dawie en Pieter de Jager het met Rekord gesels oor hoekom hierdie voorlopig hul laaste optrede sal wees. Volgens Dawie, basskitaarspeler van die groep hoef aanhangers nie benoud te raak nie, want die groep vat net ‘n pouse. “Ons sal beslis in die toekoms weer saam speel, maar vir nou gaan ons elkeen ons eie ding doen. Ek gaan weer bietjie fokus op Klopjag, so ek is opgewonde daaroor,” het Dawie gesê. Pieter de Jager, die hoofsanger van die groep, gaan vir die volgende twee jaar oorsee. “Dit was ‘n emosionele optrede, maar die gehoor was net ongelooflik. Dit was ‘n baie lekker manier om af te sluit… vir nou,” het Pieter gesê.

Die res van die dag het vir Blackbyrd, Riana Nel, Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan en Bok van Blerk op die verhoog gesien.
Jacaranda FM se hoofbestuurder, Kevin Fine, was self opgewonde oor die dag, “Hierdie is maklik die mees diverse en opwindende optrede wat ons tot dusver gehad het. Dis moeilik om so ‘n verskeidenheid kunstenaars op een verhoog te sien, so hierdie jaar se Jakarandadag is voorwaar iets spesiaals gewees,” het Fine gesê.

 

 

Exit mobile version