Gewilde sanggroep tree op sonder tromspeler

'n Baie bekende sanggroep het onlangs by Die Blou Hond opgetree sonder hul tromspeler.

The Heuwels Fantasties het Vrydagaand die sosiale mediablaaie aan die gons gehad toe hul tromspeler, Philip Erasmus, op ‘n uiters ongewone manier die groep verlaat het.

Die groep was besig om op te warm vir hul optrede by Die Blou Hond, toe Erasmus net eenvoudig uitgestap het en nie weer teruggekom het nie. Hy het glo die groep se Facebook-blad oorgeneem en ‘n video daarop geplaas oor sy besluit om die groep te verlaat. Die Heuwels Fantasties se hoofsanger, Pierre Greef, het verduidelik dat hulle niks teen Erasmus het nie, maar dat sy optrede sonder die groep se medewete plaasgevind het.
Gelukkig kon die groep ’n ander tromspeler, Sheldon Joko, inroep om hulle met die optrede te help en die res van die aand het voorspoedig verloop.

Pretorianers was behoorlik opgewonde oor die groep se optrede en min mense was bewus dat Erasmus nie saam met die groep sou optree nie. Teen 18:00 het Die Blou Hond se parkering oorgeloop en moes aanhangers hul voertuie buite parkeer om die vertoning by te woon.
“Ek is mal oor die Heuwels Fantasties en dis die eerste keer wat ek hulle gaan sien optree,” het ‘n opgewonde Corene van der Merwe voor die vertoning gesê. Sy het die vertoning saam met haar skoonsuster Dalinca van der Merwe gaan kyk.
Twee aanhangers het die aand hul verjaarsdae gevier. Lucia Booyse en Louisa Venter was in die wolke om hul verjaarsdae by dié vertoning te vier.
Volg die link om Erasmus-video te sien: https://www.youtube.com/watch?v=Np3kGLI00ok

 

Exit mobile version