Die poetsbakkers is terug met Ek Joke Net!2

Die nuwe luilekker vermaak van Ek Joke Net!2 word op 1 Mei vrygestel en befaamde akteur Hannes Brümmer van Centurion deel met Rekord ’n paar agter-die-skerm tonele.

Befaamde komediant Hannes Brümmer van Centurion is ingesluit by die skryfspan van die nuutste poetsbak-film Ek Joke Net!2.

Die poetsbakker van Ek Joke Net! is terug vir rondte nommer twee en die keer is niemand veilig nie. Onder die banier van nuutgestigde Komiese Akteurs Kommissie (K.@.K) slaan die poetsbakkers toe wanneer hul slagoffers dit die minste verwag.

Na die sukses van Ek Joke Net! wat in 2011 vrygestel is, het uitvoerende vervaardiger Peter Scott vir Dries Scholtz en Danie Bester genader om ’n opvolg te doen. “Om nog ’n verskuilde kamera-film te maak, is iets wat ons al ’n geruime tyd oorweeg het en toe Peter ons nader om Ek Joke Net!2 te maak, kon ons nie weier nie,” het Scholtz gesê.

Brümmer was ook genader om as skrywer en akteur deel te wees van die dinamiese span. Brümmer het gesê hy het besluit om deel te wees van die Ek Joke Net!2-span omdat hy nog altyd probeer het om sy loopbaan so divers as moontlik te hou en elke geleentheid in sy gebied probeer aanpak. “Toe Film Factory my die aanbod maak om deel te wees van die Ek Joke Net!2-span kon ek nie nee sê nie,” het Brümmer gesê.

Brümmer is al dikwels gevra of hy hiperaktief is, maar hy kon nog nooit lank genoeg stil sit om uit te vind of dit waar is of nie. Hy is sedert 2005 ’n lid van Joe Parker se Improv Express, asook Starship Improvise daarna. Oor die afgelope sewe jaar is hy ook gereeld in Suid-Afrika gesien as ’n skerpskertser en het al by verskeie feeste opgetree. Hy is ook ’n lid van die toonaangewende Afrikaanse komedieduo, Die Flying Dutchmen, saam met Melt Sieberhagen.

Na die verwerwing van sy drama-graad, wat hy in 2000 aan die Universiteit van Pretoria ontvang het, het hy in verskeie reekse en sepies soos Een Skoenlapper, Amalia, Villa Rosa, en Binnelanders verskyn, asook ’n aantal televisie-advertensies en die rolprent Skin.

Brümmer speel verskeie karakters in die film Ek Joke Net!2, van die Jan-alleman tot die eksentrieke. “Hulle almal het net een doel voor oë – om die onskuldige slagoffer uit te vang,” het Brümmer gesê.

Brümmer het gesê die grootste uitdaging tydens die verfilming van die fliek was die sweempie van ’n skuldgevoel wat hy ervaar reg voordat ’n poets aangepak word. Benewens dit, was dit vir hom ook ’n uitdaging om deurgaans in karakter te bly, selfs wanneer ’n mens wil begin giggel.

Brümmer het vertel van ’n geval waar hy homself baie goed intoom moes hou vir ’n slagoffer wat nie besef daar word ’n poets op haar gebak nie. “In een poets het ons ’n ouer vrou probeer skrikmaak in ’n taxi, maar sy het net aangehou om ons van haar kinders te vertel en het nie geblik of gebloos toe ons die poets in werking stel nie. Sy was so ongelooflik koddig en dit was onmoontlik om nie te begin lag nie,” het hy gesê.

“Die wonder van ’n steelkamera-film is dat mens nooit regtig weet hoe mense gaan reageer nie en wat op ’n gegewe dag gaan gebeur nie. So hou elke dag sy eie verassings in,” het hy bygevoeg.

Brümmer beskou Ek Joke Net!2 as luilekker vermaak wat ’n mens kans gee om terug te sit en bietjie te lag oor die lewe. “Die film gee ’n heerlike, eerlike blik op ons mede-Suid-Afrikaners,” het hy gesê.

Die film sal 1 Mei, voor die nasionale verkiesing, vrygestel word.

Related Articles

Back to top button