Dozi keer terug na sy Afrikaanse wortels

Dozi se 18e album beloof om sy aanhangers op ’n reis te neem deur Afrikaanse poëtiese lirieke.

Dozi, alombekend in die musiekwêreld vir sy Afrikaanse sowel as Zoeloe musiek, is terug op die voorgrond met sy splinternuwe album, Hande vol Genade. Bekend vir treffers soos Ryperd en Pennies op die Spoor, is Hande vol Genade dié bekroonde sanger se 18e album.

Tesame met sy jarelange medewerker, die liedjieskrywer, tromspeler en sanger Steff Kruger, het Dozi die 14-snit album, wat beloof om luisteraars op ‘n nostalgiese reis mee te sleur, binne drie maande voltooi.

Anders as wat die titel mag blyk, is die album egter nie ‘n Christelike album nie en aanhangers kan uitsien na lekker boeremusiek sowel as saamsing poptreffers.

Die eerste snit op die album, Kruispad, soos die res van die album, fokus op ‘n reistema wat moontlik ‘n geestelike reis is.

Dozi se meesleurende stem komplementeer die akoestiese sjarme en rou eerlikheid van die album. Liedjies soos Murasies is ‘n poprock-melodie met op-en-wakker kitaarspel, terwyl Binneboudbaaisekel die sakkie-sakkie ritme van boeremusiek naboots. Dozi se blues-aanslag kom sterk navore in Karoo-telegram. Winter is ’n diep liefdesliedjie wat die hart se snare pluk met poëtiese lirieke en die akoestiese klanke van kitaarsnare en ’n handtrom. Die traagklanke van ’n viool sterk die romanse in die liedjie aan.

Hande vol Genade plaas die kollig op Dozi se gevoelvolle sang en sy vermoë om liriese ballades met onbeskryflike warmte te vertolk. Sy persoonlike gunstelinge is Kruispad omdat hy ‘van die lirieke hou’.

Related Articles

Back to top button