Romantiese fliek met ‘n kinkel

Vrou Soek Boer is propvol humor en sal deur die hele gesin geniet word.

Afrikaanse fliekvlooie kan die springmielies en koeldrank begin gereed kry vir ‘n prettige liefdesdriehoek wat spog met ‘n rolverdeling wat name soos Lika Berning, Nico Panagio en Bok van Blerk inlsuit.

Die nuutste Afrikaanse film Vrou Soek Boer speel in Mpumalanga af en is in en om Wakkerstroom verfilm.

Mareike (Lika Berning) is ’n stadsmeisie en suksesvol in haar veeleisende beroep. Haar liefdeslewe laat egter veel te wense oor. Ná ’n onderonsie met haar baas, verruil sy die stad vir die platteland om ’n bakkery oor te neem wat sy geërf het. Haar nuwe lewe hou meer in as wat sy kon indink. Buiten dat sy haar snyerspakkies vir ’n voorskoot moet verruil, begin die poppe dans wanneer sy tussen Meneer Aantreklik en Meneer Reg moet kies.

Die frustrasie oor haar onvermoë voor die bakoond in die bakkery word vererger wanneer sy gereeld in Neil (Nico Panagio), ’n boer van Wakkerstroom, bly vasloop. Ná ’n hele paar rampspoedige afsprake met mans in die omgewing ontmoet sy vir Stander (Bok van Blerk) wat glo Mareike is die vrou vir hom. Maar is Stander die man vir haar of gaan sy en Neil hul aanvanklike irritasie met mekaar vir iets meer kan verruil?

Ander spelers in Vrou Soek Boer is Marga van Rooy, Magda Beukes, Anrich Herbst, Julie Strydom, Anthony Fridjohn, Henk Hugo, Charlenè Brouwer, Almarida Reynecke, Martin Bester, Hennie Smit en Lindie Stander.

Vrou Soek Boer word op 7 Maart landswyd uitgereik en word deur Nu Metro Films versprei.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button