Makietie soos nooit te vore by kinderhuise

Een van die grootse Afrikaanse makieties gaan op 11 April by die Heartfelt Arena ten bate van liefdadigheid plaasvind.

Twee van die bekendste kinderhuise in die Moot beoog om vanjaar geskiedenis te maak deur ‘n reuse fondsinsamelingsprojek te loods.

Die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise gaan op 11 April om 18:30 by die Heartfelt Arena in Voortrekkerhoogte ’n vertoning deur Suid-Afrika se gunsteling Afrikaanse kunstenaars aanbied.

Sommige van dié uitmuntende kunstenaars sluit in Juanita du Plessis, Theuns Jordaan, Kurt Darren, Pieter Koen, Adam, Ricus Nel en Diederick van 7de Laan asook Hennie Jacobs.

Christo Louw, projekbestuurder, het gesê dat dit beslis ’n kwaliteit produksie gaan wees wat deur die land se voorste klank-, beligting-, lasers-, oudiovisuele- en verhoogontwerpmaatskappye aangebied gaan word om top gehalte te verseker.

“Ons wil vir die gemeenskap waarde vir hulle geld gee en kwaliteit gesinsvermaak aanbied by een van die grootste binnenshuise arenas in Pretoria. Vermaak uit die boonste rakke,” het Louw gesê.

Hy het gesê 100% van die vertoning se opbrengs gaan teruggeploeg word in die ontwikkeling en versorging van die kinders.

Volgens Louw gaan verskeie kinderhuis-projekte soos die Fietsry-ontwikkelingsprojek, hengel, boogskiet, luggeweerskiet, Dive for Life, Defend with Integrity en vele meer by dié fondsinsameling baat.

Die kaartjies vir die vertoning is tans by www.pnptickets.co.za beskikbaar of besoek www.hartvanjakaranda.co.za vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button