Kunstenaars by Innibos vereer

Innibos vereer Tango en Cronje as uitblinkers tydens hierdie jaar se fees.

Die gordyn het gesak, die ligte verdoof en die die applous het lank reeds vervaag, maar by Innibos duur die vieringe van die kunste steeds voort met die onlangse oorhandiging van toekennings aan die mees gewilde stuk en kunstenaarsbydrae tydens hierdie jaar se fees.

Die gewildste produksie by Innibos 2013 was die komedie, Tango, uit die pen van die veelbekroonde skrywer, Chris Barnard. Die produksie het altesaam 2 213 kaartjies verkoop en alle vertonings wat by die fees geskeduleer was, is uitverkoop. Dit was ook Barnard se eerste komedie en ‘n opdragstuk ter viering van Innibos se tiende bestaansjaar.

Die feesbestuurder, Andy Lubbe, en die produksiebestuurder, Philna Scholtz, het die prys, ’n beeld geskep deur die Laeveldse beeldhouer Arend Eloff , aan Katinka Heyns en Barnard oorhandig.

Heyns het die regie van Tango waargeneem met ’n formidabele rolverdeling wat Tobie Cronjé, Marius Weyers, Cobus Rossouw en Tinarie vanWyk-Loots ingesluit het.

“Ons is baie trots daarop dat hierdie toekenning vanjaar aan Innibos se opdragproduksie gaan,” het Lubbe tydens die toekenningsgeleentheid gesê. “Toe ons vir Chris vra om spesiaal ’n toneelstuk vir Innibos se tienjarige herdenking te skryf, het ons reeds geweet dat dit ’n wensresep is en die publiek het beslis saamgestem.”

Die regisseur van Barnard se stuk, Katinka Heyns, het die uitdaging om die befaamde dramaturg se eerste komedie te bestuur met opgewondenheid sowel as dankbaarheid benader. “Ek het nie gedink hy gaan dit regkry om ‘n komedie te skryf nie. Die geleentheid wat Innibos vir ons as kunstenaas aanbied om op ons rype ouderdom steeds te ontwikkel, spreek boekdele van die noodsaaklikheid van kunstefeeste soos dié,” het sy aan Rekord gese.

Innibos se bestuurspan ken ook jaarliks ‘n prys toe vir die produksie, kunstenaar of regisseur wat die grootste kunstenaarsbydrae tot die fees gelewer het en vanjaar is daar besluit om hierdie eerbewys aan Tobie Cronjé toe te ken. Volgens Sandra Jacobs van die Innibos bestuurspan, is Cronjé ‘n volwaardige wenner.

“Tobie is ’n veelsydige akteur en het deur die jare diep spore in die Afrikaanse toneel en rolprentwêreld gestap, waardeur hy volksbesit geword het.”

“Dit is nog altyd vir my ‘n eer om deel te kan wees van die kunste. Mens doen mos eintlik net goed in dit waarvoor jy lief is. Die toekenning is ‘n groot kompliment,” het Cronje aan Rekord gese.

Die volgende Innibos vind vanaf 2 tot 5 Julie 2014 in Nelspruit plaas

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button