Stass is te koop

Stass aanhangers gons oor nuwe album se kreatiwiteit.

Stass se nuwe Afrikaanse album, Ek is te koop, het aanhangers aan die gons oor die album se kreatiwiteit en prettige Afrikaanse snitte op die CD.

Gerrit Jansen van Veuren, ook welbekend as Stass van Onbeskaamd, het ongeveer vier maande geneem om die trefferalbum aanmekaar te slaan. Hy het die album se produksie hanteer en sy vrou, Elanie, het hom gehelp om die lirieke te skryf.

“Ek het ook die voorreg gehad om vir Juanita du Plessis, Gerhard Steyn en Leza Liversage by die CD te betrek. Ek het ook ‘n paar begaafde musikante betrek, soos Vinnie Henrico op tromme en Matthys Maree op klavier en trekklavier,” het hy gesê.

Van Veuren het gesê die duette op die album is baie spesiaal vir hom, veral die liedjie, Gebed van ‘n vrou, wat hy saam met Du Plessis gesing het. Die liedjie moedig vroue aan om op te staan vir hulle families en om die bidders van die gesin te word.

“Ek glo my ma se gebede het my uit ontelbare situasies gered en dit was ook ‘n voorreg dat iemand soos Juanita du Plessis die liedjie met haar unieke en uiters aangename stem kon sing. Sy is ook natuurlik ‘n groot rolmodel vir derduisende vroue in ons land.”

Ander duette sluit in Godpad saam met Gerhard Steyn en Sprakeloos saam met Leza Liversage. Hy het gesê albei liedjies lê na aan die hart, maar Godpad is moontlik sy gunsteling treffer omdat hy glo die lirieke praat hard met elke man in die land. Van Veuren hoop dat die liedjie die luisteraars sal aanmoedig om op te hou om hulle eie paaie te volg en eerder die Godpad wat vir hulle uitgelê is te volg.

Die CD se naamm, Ek is te koop, sinspeel op die gedagte dat die mens so vinnig hulself as te koop aanbied sodat hulle makliker in die samelewing aanvaar kan word. “Ons vrees dat mense ons sal vergeet en gaan soek eerder aanvaardig deur middel van sosiale media en so aan. Jesus het ‘n duur prys vir ons betaal en tog probeer ons om onsself weer te verkoop.”

Van Veuren het gesê hy hoop die nuwe album sal die luisteraars inspireer om alle areas van hul lewe te ondersoek en ‘n Godpad te begin loop.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button