Voorman sterk aan ná brand op plaas in Noordwes

Brande in die provinsie het grootskaalse skade aangerig en Werner Victor (44) het koolstofmonoksied-vergiftiging opgedoen.

Werner Victor (44), ‘n voorman by Castello Boerdery tussen Ventersdorp en Potchefstroom, is verlede Saterdag in die Mediclinic in Potchefstroom opgeneem nadat hy gehelp het om brande tydens die naweek se brandkrisis in die Noordwes te blus.

Potchefstroom Herald berig Victor het op die dag agter op ‘n bakkie die vuur beveg toe hy vuur ingeasem het en agteroor geval het. Quintin Hohowsky wie die bakkie bestuur het is die een wat Victor na die hospitaal gehaas het.

Victor se vrou, Lilianne, sê sy was saam met ‘n vriendin op pad na Victor toe om vir hom diesel te vat toe sy die nuus ontvang het.

“My vriendin se man het ons gebel, maar dit het op dieselfde tyd oor die radio ook deurgekom. Ons dogter was saam met ons in die bakkie. Ons was beide histeries. Daar gebeur so baie goed gelyk en daar gaan so baie gedagtes deur jou kop in daardie tyd.”

Sy vertel sy was kalm toe hulle by die hospitaal opdaag. Personeel wou hom eers Vereeniging toe oorplaas, maar ‘n dokter wat besluit het om sy sorg oor te neem het gevoel dit is nie nodig nie.

“Hy het koolstofmonoksied-vergiftiging opgedoen. Hulle moes seker maak hy het nie enige breinskade opgedoen nie. Ek was so verlig toe hy uiteindelik uit die hospitaal ontslaan is. Mens besef nie hoe kort die lewe is nie.”

Victior, wat nie veel van die voorval kan onthou nie, sê hy is net dankbaar hy lewe.

“’n Ongeluk gebeur so vinnig en mens weet nooit aan watter kan van die herstel lyn jy gaan wees nie.”

Hy noem sy lyf is nog seer, maar dat hy volgende week weer gaan begin werk.

“My lyf is nog baie seer en my bors is styf, soos iemand wat erg onfiks is. Ek is wel weer gereed om terug werk toe te gaan.”

Brande teister De Wildt

Kormorant berig dat groot skade in ander dele van die provinsie gelei is.

Brandweereenhede en inwoners in De Wildt het die onverpoosd geveg om ernstige brande in die omgewing te blus. Meer as 800ha grond is deur dié brande verwoes.

Brande het reeds verlede Vrydag op verskeie plekke uitgebreek en huise bedreig. Die Working on Fire (WoF)-span in De Wildt is vroeg verlede Saterdagoggend ontplooi en het tot laataand gespook om die brand onder beheer te kry.

Sondag het ‘n ernstige veldbrand oor die kruin teen die Magaliesberg af versprei. Die brandlyn was teen 13:00 reeds meer as 3km lank en het na verskeie plekke versprei en woonhuise bedreig.

Die WoF-brandbestrydingspan, lede van De Wildt Helpmekaar Maatskappy (DWHM), inwoners en Madibeng-brandweer het verlde Saterdag tot ongeveer 22:30 geveg om die brande onder beheer te kry.

“Die WoF-span moes onttrek word, hulle het toe al meer as nege ure onverpoosd brande bestry,” het die DWHM gesê. Tshwane Brandweer se hulp is in dié stadium ingeroep.

Vroeg Maandagoggend het brande weer opgevlam en die WoF-span is ontplooi om huise en strukture te beveilig.

“Die publiek word gewaarsku dat die brandverbod geld tot ongeveer twee weke na dit voldoende gereën het, gewoonlik tussen 20 en 50mm reën oor ‘n tydperk van minder as twee weke. Baie van die brande word deur vullisverbranding veroorsaak, sowel as industriële werk soos sweis naby droë gras. Ons versoek grondeienaars om uiters versigtig te wees. Die brandgevaar is tans op sy hoogste.”

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button