Vermeende reeksmoordenaar wil nie meer skuldig pleit

Sy is gearresteer nadat DNA toetse bevestig het ‘n verkoolde lyk behoort aan ‘n Britse burger wat Suid Afrika toe gekom het om haar te ontmoet.

’n Vermeende reeksmoordenaar van De Deur naby Vereeniging staan tans tereg op die moord van twee bejaarde mans wat sy na bewering op die internet ontmoet het, sowel as die moord van ‘n vriendin wat sy by die kerk ontmoet het.

Alhoewel Zaheera Boomgaard (62) se regsvereenwoordiger voorheen aangedui het dat sy ‘n pleitooreenkoms met die staat wil aangaan, is daar in haar mees onlangse verskyning in die Pretoriase Hooggeregshof, op 5 September, gesê dat sy van plan verander het.

Zaheera Boomgaard toe sy in November 2020 in die streekhof in Vereeniging verskyn het. Foto: Christiaan Cloete.

Sy word aangekla vir die moorde van John Naisby (83), van Kaapstad, die Britse burger Jamnadas Harkant ‘Hari’ Nathvani (72), sowel haar vriendin, Lynette Mustapha (72).

Beide mans het vermis geraak nadat hulle gereis het om Boomgaard persoonlik te onmoet. Naisby se liggaam is nooit gevind nie maar daar is na bewering van sy besittings by Boomgaard gevind toe sy gearresteer is.

Die familie van Nathvani het selfs van die Verenigde Koninkryk na Suid-Afrika gereis vir die voorverhoorverrigtinge in die Gautengse Hooggeregshof.

Jamnadas Harkant Nathvani (71)

Staatsaanklaer André Wilsenach het die hof egter meegedeel dat die pleit- en vonnisooreenkoms nie gefinaliseer kon word nie nadat die beskuldigde aangedui het dat sy nie die pleitooreenkoms met die staat gaan sluit nie.

Dit volg skaars ‘n week nadat Boomgaard se prokureur die staat genader om ‘n ooreenkoms te bereik.

Die saak is uitgestel tot Februarie 2025. Boomgaard bly in aanhouding tot dan.

Saak sloer al vir jare

Boomgaard is reeds op 17 Mei 2020 in hegtenis geneem, maar die saak het die afgelope paar jaar gesloer weens verskeie redes.

Tydens die eerste verhoor het Boomgaard beweer dat sy aan ‘n meervoudige persoonlikheidsversteuring ly en stemme hoor. Sy is toe in Mei 2023 na die Sterkfontein Psigiatriese Hospitaal verwys vir waarneming.

‘n Forensiese verslag het egter getoon dat daar nie fout met Boomgaard is nie en dat sy geskik is om verhoor te word.

Later is die saak weer tot stilstand geruk nadat regter Tshifhiwa Maumela hom van die saak onttrek het.

Die saak het toe opnuut begin met regter Jacobus Strydom as voorsittende beampte.

Vermiste man se bankkaarte by beskuldigde gekry

Volgens die staat het Boomgaard vir Naisby (van Kaapstad) en Nathvani (‘n Britse burger) vermoor. Sy het albei die mans op Facebook ontmoet.

Naisby het in 2012 vermis geraak nadat hy Boomgaard op Facebook ontmoet het en na Gauteng gereis het om haar te gaan sien.

John Naisby (83)

Sy liggaam is nooit gevind nie, maar sy bankkaarte is in Boomgaard se besit gevind toe sy in 2020 in hegtenis geneem is. Volgens die staat is geld verskeie kere na sy dood uit sy rekening onttrek.

Nathvani het Suid-Afrika in Januarie 2020 besoek en vermis geraak. Kort na sy verdwyning is daar ook verskeie kere geld uit sy rekening getrek.

Terwyl die polisie na die vermiste Nathvani op soek was het hulle op die lyk van Mustapha in ‘n veld naby De Deur afgekom.

Sy en Boomgaard het mekaar glo by ‘n kerk ontmoet en was na bewering vriende.

Die polisie het in Augustus 2020 nog ‘n verkoolde lyk in De Deur gevind. DNS toetse het onthul dat dit dié van Nathvani was.

 

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button