Sensitive Content

Vereeniging-man kry tronkstraf ná vrou se wrede branddood

‘n Man van Vereeniging is 15 jaar tronkstraf opgelê nadat hy sy lewensmaat met brandstof gegooi en haar aan die brand gesteek het.

Waarskuwing: Hierdie berig bevat foto’s wat sommige lesers mag ontstel.

Die streekhof in Vereeniging het vroeër vandeesmaand uitspraak gelewer in die opspraakwekkende moordsaak van Linell (Chanelle) du Toit wat in Oktober 2024 deur haar lewensmaat, Pieter Stephanus (Stephan) van Staden, met petrol gegooi en aan die brand gesteek is.

Vaalweekblad berig Van Staden is op 11 November skuldig bevind aan moord en tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis, nadat hy ’n volledige Artikel 220-erkenningsverklaring aan die hof voorgelê het.

Hy het hierdie vonnis as deel van ’n soort pleitooreenkoms met die staat aanvaar, wat daartoe gelei het dat die ander aanklagte teen hom nie voortgesit is nie.

By sy eerste hofverskyning verlede jaar het Van Staden met verbande om sy bene in die beskuldigdebank ingeskuif. Dit het brandwonde, wat hy tydens die voorval opgedoen het, bedek.

Van Staden het aanvanklik onskuldig gepleit toe hy op 28 Oktober in die hof verskyn het.

In sy verklaring erken hy egter dat hy en Du Toit op 26 Oktober 2024 gestry het terwyl hulle albei onder die invloed van dwelms was.

Tydens die argument het hy petrol oor haar gegooi by die woonstel wat hulle in Uniestraat in Vereeniging se middestad gedeel het, en haar aan die brand gesteek.

Du Toit het sowat 80% van haar liggaam ernstige brandwonde opgedoen, insluitend haar gesig, arms, buik en bene, en het twee dae later in die Sebokeng-hospitaal beswyk.

Linelle du Toit in die Sebokeng-hospitaal nadat sy met petrol gegooi en aan die brand gesteek is.

In ’n video wat sy voor haar dood op sosiale media gedeel het, het sy aan die wêreld vertel dat Van Staden haar aan die brand gesteek het.

“Ek het voorsien dat die brand kan lei tot die oorledene se dood,” het Van Staden in sy verklaring geskryf.

Hy het verder erken dat hy “regstegnies geen verweer het nie.”

Staatsaanklaer Reuben Chabalala het die asaak vir die staat behartig, terwyl adv. Riaan Morton vir Van Staden opgetree het. Streeklanddros Nico van der Berg het die uitspraak gelewer.

Linell du Toit voor sy deur die vlamme vermink is.

2023-geweldsaak ook finaal afgehandel

 Op dieselfde dag het die hof ’n ouer dossier teen Van Staden uit 2023 finaal afgehandel. Alhoewel die sake nie amptelik saamgevoeg is nie, is hulle voor dieselfde streeklanddros afgehandel. Die 2023-saak het ’n reeks ernstige aanklagte ingesluit, insluitend:

  • roof met verswarende omstandighede (12 Februarie 2023)
  • aanranding met die opset om ernstig te beseer deur petrol op nog ‘n vrou, Chantelee de Lange, te gooi
  • mishandeling en marteling van ’n dier
  • gooi van petrol op ’n hond
  • gooi van ’n hond teen ’n muur (Augustus 2023)

Volgens die staat is hierdie aanklagte egter nie verder gevoer nie ná die ooreenkoms waarin Van Staden se skuldigbevinding en 15-jaar vonnis vir moord gefinaliseer is.

Patroon van geweld

Hofdokumente wys dat Van Staden sedert 2011 verskeie vorige veroordelings het, meestal vir dwelmoortredings en die dwarsboming van polisiebeamptes.

Die finale afhandeling van beide die 2024-moordsaak en die 2023-geweldsaak op dieselfde dag skets ’n duidelike patroon van toenemende geweld wat oor jare opgebou het en uiteindelik op die spits gedryf is tydens die laaste voorval.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button