Vanderbijlpark-polisie ondersoek verdrinking van 1-jarige dogtertjie
Paramedici en omstanders in Mullerstuine het onverpoos probeer om ’n peuter op ’n kleinhoewe se lewe te red, maar hulle pogings was onsuksesvol.
Die polisie is besig met ’n geregtelike doodsondersoek nadat ’n eenjarige dogtertjie se liggaam in ’n watergevulde put op haar gesin se kleinhoewe, naby Vanderbijlpark, aangetref is, berig Vaalweekblad.
Katherine van Tonder, wat saam met haar pleegouers op die Mullerstuine-kleinhoewes gewoon het, het verlede week vir ’n kort rukkie buite gespeel. Sy het vermoedelik in die put, wat deur die oorloop van ’n watertenk gevorm is, geval.
Volgens sersant Sophia Gaboutlwelwe, kommunikasiebeampte van die Barrage-polisiekantoor, word daar geen vuilspel vermoed nie. “Die omstandighede rondom die voorval word steeds ondersoek en die geregtelike doodsondersoek sal die presiese oorsaak van haar dood bepaal,” het sy gesê.
Katherine se pleegma, Mariaan Tolmay, het die voorval bevestig, maar het versoek dat die familie gedurende die uiters moeilike tyd gerespekteer word en het verkies om nie verder kommentaar te lewer nie.
ER24 het bevestig dat paramedici kort voor 12:00 op die toneel opgedaag het waar omstanders reeds kardiopulmonêre resussitasie op haar toegepas het nadat sy uit die water gehaal is.
Volgens ER24 het paramedici gevorderde lewensondersteuningsbehandeling voortgesit, maar sy is ongelukkig op die toneel dood verklaar nadat alle pogings om haar by te bring onsuksesvol was.
’n Gedenkdiens is gister (30 Junie) vir Katherine gehou.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za