Speeltyd eindig in tragedie vir seun (5) van Nigel

’n Onskuldige speletjie het binne oomblikke in ’n nagmerrie ontaard toe ’n vyfjarige seun van Nigel ernstig beseer is nadat hy op ’n rugbybal gegly en op sy kop geval het.

Wat veronderstel was om ’n onskuldige, prettige aktiwiteit vir ’n vyfjarige seuntjie van Nigel te wees, het in ’n ernstige en traumatiese voorval ontaard.

Heidelberg Nigel Heraut berig Roland Janse van Rensburg, ’n Graad RR-leerder van Laerskool Tini Vorster, het Saterdagoggend vroeg by sy ouerhuis probeer om op ’n rugbybal te staan toe hy sy balans verloor en geval het.

Hy het op die regterkant van sy kop geval. Sy ma, Marizel (34), vertel dat alles van daardie oomblik af in ’n nagmerrie ontaard het.

“Ek was in die kombuis doenig en Roland was skaars ’n meter van my af besig met die bal. Hy is ’n klein woelwater wat altyd besig is, en dit was nie ongewoon dat hy op die rugbybal probeer staan het nie.

Roland Janse van Rensburg en sy boetie, Renier geniet dit om met hulle rugbyballe te speel. Foto: Verskaf

“Hy het dit inteendeel al vele kere gedoen en ons het nie in ons wildste drome gedink dat hy so erg kon seerkry nie,” het sy gesê.

Marizel het vertel dat Roland dadelik ná die val begin huil het en dat daar baie bloed en vloeistof (wat hulle later vasgestel het, serebrospinale vloeistof was) by sy oor uitgeloop het.

Marizel en haar man, Renier (36), het Roland dadelik na die Life Suikerbosrand Hospitaal in Heidelberg geneem, waar hy opgeneem is vir verdere mediese behandeling.

’n CT-skandering is uitgevoer en volgens Marizel het hul harte in hul skoene gesak toe hulle meegedeel is dat Roland ’n komplekse skedelbasisfraktuur met deurbreking van die otiese kapsule opgedoen het.

“Hy is ook vir X-strale gestuur om vas te stel of daar moontlik ’n besering aan sy nek kan wees, maar genadiglik is sy nek ongedeerd,” het Marizel gesê.

Roland Janse van Rensburg is ‘n lewenslustige seuntjie wat ‘n ernstige kopbesering opgedoen het toe hy op ‘n rugbybal probeer staan het. Hy sterk tans in die hospitaal aan. Foto: Verskaf

Sy het Maandagmiddag gesê dat dit onder die omstandighede rustiger gaan, maar dat die kommer beslis nog nie verby is nie.

“Daar is tans geen verdere bloeding nie en die mediese span het ons meegedeel dat dit ’n goeie teken is,” het sy gesê.

“Hy is op sterk medikasie om te voorkom dat hy epileptiese aanvalle kry of ’n breininfeksie opdoen.”

“Ons gaan deur ’n moeilike tyd en dit is veral moeilik vir sy ouer boetie, Renier (7), wat hom nie kan besoek nie weens sy jong ouderdom.

“Ek kan nog steeds nie glo dat die ongeluk so vinnig gebeur het nie. Die een oomblik het hy nog gespeel en die volgende oomblik was ons op pad hospitaal toe.”

‘n Vrolike Roland Janse van Rensburg tydens die afgelope Kersfees. Foto: Verskaf

Marizel is sedert Roland se opname soveel moontlik aan sy sy by die hospitaal en word afgewissel deur Renier.

Die gesin beskik nie oor ’n mediese fonds nie en doen alles in hul vermoë om klein Roland so lank moontlik in ’n privaat hospitaal te hou.

“Ons het tot dusver betaal vir wat ons kon, maar is deeglik bewus daarvan dat daar nog enorme mediese onkostes en uitgawes gaan wees.”

“Ons het ‘n BackaBuddy-veldtog op die been gebring en daar is soveel vreemdelinge, vriende en besighede wat ons reeds gehelp het. Ons is dankbaar vir elke bydrae en almal se ondersteuning,” het Marizel gesê.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.
Back to top button