Speel lag-lag klaar met al die sorge en stres by Innibos

Maak gereed om uit jou maag uit lekker te lag by vanjaar se Innibos Kunstefees in Mbombela van 27 tot 30 Junie.

’n Heerlike keuse van komedie om die gemoedere te lig is te sien by Innibos Kunstefees vanjaar.

Innibos is van 27 tot 30 Junie in Mbombela.

Hospitale en wat daarmee gepaard gaan, is geen grap nie, maar soms is ’n skaterlag of meer ’n dag presies wat nodig is om weer beter te voel. Die talentvolle Wynand van Vollenstee is die teksskrywer en regisseur van die Innibos-komedie Hospitale, kateters en familielede én is op die verhoog te sien in hierdie skreeusnaakse debuut. Saam met hom in die rolverdeling is Stephanie Baartman, Thiart Li en Marissa Claasen.

Die vier akteurs vertolk altesaam 14 verskillende karakters wat in ’n hospitaal verskeie onvermydelike misverstande, verwarrende mediese prosedures en ’n bedenklike spyskaart die hoof moet bied om gesond te word. Daarby is die toestand van die mediese toerusting maar so-so, en dis asof slegs die skelhelder buisligte wat dag en nag brand al is wat werk.

As daar egter een ding is wat Suid-Afrikaners kan doen, is dit om tragiese oomblikke te omskep in iets verkwikkend humoristies. In die talle situasies wat die meeste mense iets van sal herken, is die deurlopende draad omgee en hoe mense mekaar deur selfs die donkerste uur kan bystaan.

Hospitale, kateters en familielede is te sien by Bergland Laerskool op 27 Junie om 16:00, 28 Junie om 10:00 en 29 Junie om 15:00. Kaartjies kos R190.

Nico Luwes, ‘n bekende dramaturg en skrywer voorheen verbonde aan die departement drama van die Universiteit van Vrystaat, het ’n kortverhaal van die Russiese meester Anton Chekhov verwerk as ’n klug waarmee menige rooiwynliefhebber sal kan vereenselwig. Ou Wyntoon en die weerlose kreatuur gaan oor wanneer dit voel ‘asof sewe perdebye jou onder die toonnael gesteek het’ en dit boonop vererger word deur ’n kermende vrou met haar eie agenda. Sy is ook glad nie so weerloos soos sy voorgee nie.

Luwes se belangstelling in die klassieke skrywer Chekhov – ook die skrywer van die bekende Die Kersieboord – duur al dekades en hy het voorheen verskeie stukke verwerk.

Esther von Waltsleben, Johann Nel em Jan-Hendrik Opperman is die trio wat teatergangers aan die skaterlag gaan hou. Klugte is heerlik oordrewe en net die ding om jou van die alledaagse sorge te laat vergeet.

Kaartjies kos R190 en dit is te sien by Laeveld Laerskool op 27 Junie om 10:00, 28 Junie om 16:00 en 29 Junie om 10:00.

Schalk Bezuidenhout is slimmer, skerper en snaakser as ooit tevore in Mamma se groot seun. Dié komediant debuteer by Innibos Kunstefees en aanhangers moet beslis nie gras onder die voete laat groei om kaartjies in die hande te kry nie. Daar is slegs een vertoning, op 29 Junie om 12:00, in die Nelspruit Hoërskool Ouditorium. Kaartjies kos R180.

Die volledige Innibos-program is by innibos.co.za

Read original story on www.citizen.co.za

 
Back to top button