Skoolkind sterf op rugbyveld in Vereeniging, afrigter in Groot-Brakrivier

Christive Kamanyi Kimankinda (17) van Springs Rugbyklub en Marius Fourie van Groot-Brakrivier Sekondêre Skool se sterftes word betreur.

Die afsterwe van ‘n skoolseun in Vereeniging en ‘n afrigter in Groot-Brakrivier, het groot hartseer in hulle onderskeie gemeenskappe gebring.

Vaalweekblad berig dat die Springs Rugbyklub in rou gedompel is nadat een van sy o.18-rugbyspelers tydens ‘n junior klubrugbydag op die Vereeniging Gimnasium se velde tragies gesterf het.

Christive Kamanyi Kimankinda (17) het tydens die Vereeniging Junior Rugbyklub se rugbydag rustyd in sy span se kragmeting teen Vereeniging Rugbyklub inmekaargesak. Die noodhulp en later paramedici het vir 45 minute reddingsasemhaling en borsdrukke op hom toegepas en hy is ook met defibrillator geskok.

Noodpersoneel het sy hart twee keer aan die gang gekry maar kon nie ‘n derde keer daarin slaag nie. Hy het langs die veld gesterf.

Sy ouers het nie die wedstryd bygewoon nie, maar het van die Oos-Rand deurgejaag. Die oorledene se broer het in Vanderbijlpark vir Springs se o.21-rugbyspan teen NWU Vaal in die halfeindronde van die Valke Peregrine-liga gespeel en is deur sy ouers gekontak dat daar ‘n familiekrises is.

Hy het hom na die Oos-Rand gehaas waarna hy uitgevind het dat sy broer in Vereeniging gesterf het. Slegs 10km vanwaar hy in Vanderbijlpark rugby gespeel het. Medelye stroom steeds van oral in.

Afrigter sterf in Groot-Brak

Mossel Bay Advertiser berig intussen dat Groot-Brakrivier Sekondêre Skool hulle skool se A-span rugbyafrigter, Marius Fourie, gister aan die dood moes afstaan tydens hul FNB Classic Clashes wedstryd teen Hoërskool Sao Bras.

Die wedstryd het deel gevorm van ‘n geskiedkundige dag van rugby en netbal tussen dié twee skole – ‘n dag waarna beide skole baie uitgesien het.

Volgens die skool het ‘Coach Fourie’, soos hy vir hulle bekendstaan, net voor die A-span sou opdraf in die kleedkamer tussen die spelers inmekaargesak.

“Paramedici op die toneel het hom dadelik behandel, maar hulle kon hom nie bybring nie. Hy is in die kleedkamer dood verklaar. Die wedstryd is dadelik afgelas,” sê Groot-Brak se sporthoof, Peter Smith.

Fourie het aan die begin van die jaar die leisels van die A-span oorgeneem en was geliefd onder die spelers in sy span.

Hy het nie net op die sportveld sy staal getoon nie, maar ook by die bemarking van die skool.

Huldeblyk aan ‘Coach Fourie’

Volgens Desmond Speelman, die skoolhoof van Groot-Brak, was ‘Coach Fourie’ amper deel van die personeel so gereeld was hy daar.

Coach Fourie laat ‘n groot leemte en sal beslis gemis word. Hy het ‘n groot impak op die spelers gehad en het hulle weer laat glo in hulself,” sê Smith.

Smith sê die tragedie is nog moeilik om te verwerk. Die skool sou komende naweek aan Gerrit du Plessis se sporttoernooi op Riversdal deelgeneem het, maar het besluit om te onttrek uit respek vir ‘Coach Fourie’ en sy familie.

“Mag sy pragtige siel sag en in ewige vrede rus.”

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button