Selfoonbedrog: ‘Gawe oom’ beloof gratis vleis om lugtyd te steel
‘n ‘Gawe oom’ se beloftes van vleis is eintlik daarop gemik om mense landwyd uit lugtydbewyse te verkul.
‘n Slenter wat ‘n paar jaar gelede die rondte gedoen het, waarin slagoffers op ’n slinkse manier omgepraat word om lugtydbewyse te koop en die kodes oor die foon te verskaf, steek weer landwyd kop uit.
Privaatondersoeker Ben Almero van Ben Almero Private Investigations het destyds gehelp om die skuldige in ‘n tronk op te spoor. Hy vermoed sterk dat onlangse gevalle verbind kan word met dieselfde man is wat in 2018 en 2019 mense ingedoen het omdat die storie waarmee hy slagoffers vang, soortgelyk is.
Belofte van gratis vleis lok slagoffers
’n Inwoner van Potchefstroom (wie se identiteit weerhou word) vertel dat hy ‘n oproep van iemand ontvang het wat die True Caller-toep as ‘Dr Hennie Botha’ geïdentifiseer het.
Dié man het verduidelik dat hy ‘n klomp vleis op die plaas het wat hy graag ‘vir iemand wil gee as sy tiende’. Hy het aanwysings na ’n plaas buite Potchefstroom gegee. Die inwoner het gery om die beloofde vleis te gaan haal met die doel om dit onder minderbevoorregtes uit te deel.
Net voor hy die dorp uit is het ‘Dr Hennie’ hom gebel en gevra of hy nie vir hom swartsakke en Disprins kan saambring nie. Hy het met hom gesels terwyl hy die goed koop en toe gevra of hy dan nie sommer vir hom lugtyd vir sy trokbestuurders wil saambring ‘terwyl hy by die til is’ nie.
Slenterslagoffers subtiel gemanipuleer om lugtyd te koop
Hy het eers gevra vir oor die R3 000 se lugtydstrokies, elkeen ter waarde van R275, maar die slagoffer kon net twee koop omdat hy nie genoeg geld by hom gehad het nie.
‘Dr. Hennie’ het die slagoffer oortuig om van die lugtydkodes vir hom oor die foon te lees en toe glo verdwyn.
Die aanwysings wat ‘Dr Hennie’ aan hom gegee het waar hy die vleis moes oplaai, het nie bestaan nie en hy het hom langs die pad in niemandsland bevind.
‘n Man van Bela-Bela is op ‘n soortgelyke manier geteiken, maar het gelukkig lont geruik voor hy omgepraat is om die lugtydbewyse se kodes oor die foon te gee.
Nie een van die gevalle is by die polisie aangemeld nie.
Hedendaagse voorvalle herinner aan vorige slenters
In 2018 was daar talle slagoffers van ‘n soortgelyke slenter in Middelburg en Bethal aangemeld. In een so voorval is die bedrieër se oproep opgeneem.
Die storie is byna woord-vir-woord dieselfde buiten dat die bedrieër hom destyds as ‘Dr Jan Botha’ voorgestel het.
Almero het destyds dié verdagte nagespoor tot in die tronk in Bethal waar hy besig was om ‘n lewenslange vonnis uit te dien.
Die gevangene is na die tronk in Secunda geskuif waar hy sy skelmstreke voortgesit het tot hy in isolasie geplaas is.
Almero is oortuig dat dit of dieselfde man is, of iemand wat sy modus operandi by hom aangeneem het.
Hy sê dat hy tred verloor het met waar die vorige glyjakkals hom tans bevind sedert hy na isolasie in die Secunda-gevangenis geskuif is en die slenters opgedroog het.
Lugtyddief se modus operandi bly dieselfde
In beide die onlangse asook die voorvalle in 2018 en 2019 is daar ‘n paar dinge wat dieselfde bly.
- Die bedrieër vestig homself as ‘n ‘gerespekteerde en gelowige’ man en stel homself dikwels as ‘n dokter voor.
- Daar is altyd ‘n plaas betrokke in die storie.
- Vleis wat dringend geskenk moet word om te keer dat dit vrot word is gewoonlik die lokaas. Daar was egter ook al beloftes van groot projekte op die plaas wat mense uitlok na die fiktiewe plaas om ‘n kwotasie te kom gee.
- Slagoffers word subtiel gewoond gemaak aan die idee om iets vir die ‘gawe oom’ te koop deurdat hy eers items soos pynpille versoek voordat hy vra vir lugtydbewyse.
Lugtydslenters uit die tronk die wortel vir baie euwels
Almero sê die feit dat gevangenes toegang tot selfone het, en dit dan gebruik om lugtyd uit mense te kul, dra by tot baie ander misdrywe.
Lugtyd word as ‘n waardevolle en veeldoelige handelsmiddel in die tronk gesien. Dit kan gebruik word om gunsies of luukshede te bekom in ruil vir ander gevangenes om kontak met mense buite die tronk te maak.
In van Almero se talle ondersoeke het hy op verskeie misdadigers afgekom wat misdaadsindikate van binne die tronk bedryf. Om dit te kan doen, het hulle lugtyd nodig.
Lugtyd kan ook deur gevangenes aan familie- of bendelede buite die tronk gestuur word sodat hulle dit kan verkoop en so kontant bekom.
Rica het die mag om kubermisdaad te knou
Rica, wat staan vir die Engelse term Regulation of Interception of Communications and Provision of Communication-Related Information Act (70 of 2002) bepaal dat elke simkaart in Suid Afrika aan ‘n spesifieke gebruiker met ‘n identiteitsnommer en fisiese adres gekoppel moet word. Iets wat Almero meen baie sou help in die geveg teen kubermisdaad, indien die wet afgedwing sou word.
Die realiteit is egter dat simkaarte wat nie geregistreer is nie om elke hoek en draai beskikbaar is.
Almero is oortuig dat die afdwing van Rica-wetgewing baie ander misdrywe, veral kubermisdaad, in die kiem sal smoor.
“Iemand smokkel hierdie simkaarte in vir die ou in die tronk. Hy sit met ‘n klomp simkaarte in sy besit en as een te warm word gebruik hy net ‘n nuwe een. As jy dit vir hom moeilik maak om simkaarte in die hande te kry, gaan jy dit moeilik maak vir hom om sy besigheid uit die tronk te doen,” sê Almero.
Read original story on www.citizen.co.za