Schoemanskloof-plaasaanval: Dapper vroue vertel van saggeaarde rowers

Op ’n stadium het ‘n rower een van die vroue se jeukende neus vir haar gevryf omdat haar hande vasgebind was.

Bangwees is nie deel van hul mondering nie want die Koning was met hulle, sê dogter en ma Lyzette Smith (58) en Sina Obserholzer (84) oor die plaasroof wat hulle verlede Donderdag op hul plaas in die Schoemanskloof oorleef het.

Smit sê sy het kort na 08:00 met haar tweelingsuster, Izette van der Riet, oor die foon gepraat en is daarna uit om die honde kos te gee.

“Ek het gebukkend gestaan toe ek vyf mans op my sien afstorm. Hulle het waarskynlik agter die motorhuis geskuil. Ek het eers besef wat gebeur toe van hulle my van agter gryp en my mond toedruk sodat ek nie kan skree nie,” vertel sy.

Oorval deur vyf mans

Die verdagtes het ‘n geweer wat soos ‘n AK-47 lyk, asook handwapens gehad.

“Hulle het my huis toe gesleep. Toe ons in die kombuis kom het ek bloumoord geskree om mammie te waarsku. Van die rowers is gang af en het haar in haar kamer gaan haal. Hulle het ons hande agter ons rûe vasgemaak en gesê hulle soek geld.”

Smith sê hulle was verbaas oor die respek wat die rowers teenoor hulle getoon het.

“Hulle het nie daai wreedaardige kyk in hulle oë gehad wat mens van sulke aanvallers sou verwag nie.

“Ek het vir hulle gevra om my ma nie op die vloer te laat sit nie want dis koud. Hulle het haar opgetel en ‘n lap onder haar neergesit,” sê Smith.

Wapens, besittings gebuit maar vroue met respek hanteer

Die rowers het die kluis se sleutel in die hande gekry en ‘n 303-geweer, ‘n .22-geweer en twee pistole daaruit gebuit. Hulle het ook twee skootrekenaars, selfone, Smith se gereedskapskis met sowat R50 000 se gereedskap daarin en ‘n TV gesteel.

“Waaroor ek die hartseerste is, is die 22-karaat goue mes-en-vurkstel wat my oorlede man, Barry, met ons huweliksherdenking vir my as geskenk gegee het.”

Een van die plaaswerkers het by die huis opgedaag. Die rowers het hom ook oorval en vasgebind.

“Hy het so groot geskrik, hy het sy broek nat gepiepie,” sê Smith.

Die rowers het die twee vroue die waskamer ingedra en hulle voete met draadhangers, kabelbinders en kleefband vasgedraai.

“Hulle het my mond met ‘n stuk kleefband toegeplak. Maar hulle het seker gemaak my neus is nie ook toegeplak nie, sodat ek kon asemkry.”

Die rowers het die buit in haar Volkswagen City Golf gelaai en gevlug. Smith kon daarin slaag om haar voete los te kry en het op die Schoemanskloof-radiobeheerstelsel hulp ontbied.

In ‘n japtrap was daar tientalle mense op die plaas om te kom help.

Smith sê daar was op ‘n stadium so baie voertuie op die plaas dat dit soos ‘n veiling se parkeerarea gelyk het.

“Gedurende die hele drie uur lange petalje was ons in geen stadium bang of bevrees nie. Dit was presies soos dit in die Bybel geskryf staan: Daar was in ons vrede wat die verstand te bowe gaan.”

Sy sê daar was gedurende hulle aanhouding selfs ‘n lagwekkende oomblik. “Ek het my neus probeer krap, maar kon dit nie regkry nie. Een van die aanvallers het gevra wat ek probeer doen. Ek het hom gesê my neus jeuk. Hy het ewe nadergestaan en my neus gevryf.”

Soektog vir rowers na aanval

Kort na die aanval het die polisie ‘n soektog na die verdagtes van stapel gestuur.

Kapt. Pieter Smit, die bevelvoerder van die Witrivier-blitspatrollie, was op die Kaapsehoop-pad op pad Ngodwana toe, toe die verdagte voertuig verby hom ry.

Smit het omgedraai en die voertuig gevolg terwyl hy hulp ontbied het. Die rowers het gesien hy is agter hulle aan en het by ‘n plantasiepaadjie ingejaag. Sowat 400 m die bos in het hulle stilgehou en te voet gevlug.

Intussen het AG Solutions en Bossies Community Justice se Albert Gryvenstein by die toneel opgedaag. Die misdaadtoneel is beveilig terwyl daar vir die forensiese deskundiges gewag is.

Die polisie het Vrydag ‘n deurbraak gemaak toe hulle drie verdagtes in Clau-Clau vir ‘n mislukte transitorooftog in hegtenis geneem het.

Dié rooftog het op 28 Junie in KaNyamazane plaasgevind.

Daar is toe vasgestel dat die drie moontlik ook by die plaasaanval betrokke was. Van Smith se goedere is by die verdagtes gekry.

Alex Phoku (32), lwazi Mabunda (35) en Thulani Nkosi (24) het Maandag vlugtig in die hof in KaBokweni verskyn. Die saak is tot 16 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.

Smith sê sy is op Vrydag 12 Julie na die polisiekantoor ontbied waar sy ’n uitkenningsparade moes bywoon. Sy het twee van die vermeende rowers uitgeken.

Die polisie het ook haar een skootrekenaar en drie van die gesteelde vuurwapens, ’n 9 mm- Barretta-pistool, ’n 9 mm- Parabellum-pistool en die .22-geweer uitgewys. Die wapens word vir ballistiese toetse gestuur om vas te stel of dit in ander rooftogte gebruik is.

“Dit sal dan aan my teruggegee word,” sê Smith.

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button