Potchefstroom verpleegstudent ‘n heldin na ongeluk

Op ’n stil stuk pad buite Potchefstroom het ’n 19-jarige student gewys wat dit beteken om haar roeping uit te leef.

Wat vir baie mense net nog ’n rit huis toe sou wees, het vir Lara Schutte (19) ’n oomblik geword wat haar roeping onmiskenbaar bevestig het.

Die verpleegstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) was verlede Sondag saam met ’n vriendin op pad van Pretoria terug na Potchefstroom. Schutte, oorspronklik van Centurion waar sy grootgeword het en steeds woon, ry gereeld dié roete. Niks het haar voorberei op wat sowat 30 minute buite Potchefstroom sou wag nie.

Op die Rysmierbult-pad het twee voertuie by haar verbygery en het oor ’n bult verdwyn. Toe sy self die bult nader, het sy ’n stofwolk sien opstuif, berig Potchefstroom Herald.

Toe sy oor die bult kom, het sy die toneel gesien, ’n voertuig wat reeds gerol het. Sy het nie twee keer gedink nie. Schutte het links afgetrek, uit die motor gespring en die pad oorgesteek na die beseerde bestuurder. Kort daarna het ’n familie ook stilgehou om te help.

Die man in die voertuig was wakker en het reeds sy deur oopgemaak en die veiligheidsgordel losgemaak, duidelik gedisoriënteerd na ’n harde kophou. Haar eerste woorde aan hom was ferm, maar kalm: “Moet asseblief nie beweeg nie. Bly asseblief net stil sit.”

Wat daarna gevolg het, was nie heldedade uit ’n fliek nie, dit was toegepaste kennis, instink en deernis.
Sy het hom vinnig geassesseer soos sy op universiteit geleer word. Is daar bloeding? Is daar iets wat onmiddellik aandag nodig het? Sy het sy asemhaling dopgehou, met hom gepraat, hom wakker gehou toe hy kortkort wou flou word. Terwyl die familie noodhulp ontbied het, het Schutte sy selfoon geneem en sy vrou en ouers gebel om hulle van die situasie in kennis te stel. Hulle het saam gewerk om te keer dat ’n los ruit op hom val deur ’n kombers as beskerming te gebruik.

Ongeveer 40 minute later het die ambulans opgedaag. Die man is hospitaal toe geneem. Schutte het seker gemaak sy beursie met sy mediese inligting gaan saam. Toe klim sy weer in haar motor en ry Potchefstroom toe.

“Ek het nie eers twee keer daaraan gedink om te stop nie,” sê sy eenvoudig. “Dit was net ’n natuurlike instink. Ek het geweet ek het darem bietjie kennis en dat ek kan help.”

Gewoonlik ry sy met ’n mediese tassie in haar motor, maar ironies genoeg het sy dit dié dag by die huis vergeet. Tog was haar hande en haar kennis genoeg.

Schutte het as matriekleerling oorweeg om medies te studeer en het selfs daarvoor aansoek gedoen by die Universiteit van Pretoria. Sy het ook aansoek gedoen om verpleging aan die NWU te studeer en besluit waar sy aanvaar word, daar sal sy gaan. Haar pad het by NWU uitgeloop en sy is vandag oortuig dat dit die regte een was.

Tydens haar matriekjaar het sy dokters gaan shadow, maar dit was juis daar waar sy ’n dieper liefde vir verpleging ontdek het, vir die stap saam met ’n pasiënt, vir die mens agter die mediese toestand.

“Ek wil net mense help,” het sy bygevoeg.

Na so ’n ongeluk is ’n mens maar self angstig. Wanneer die adrenalien sak, kom die bewing en die skok. Maar vir Schutte het dié dag iets anders ook gebring, bevestiging.

“Dit het my laat besef ek is definitief in die regte beroep,” vertel sy.

Dit is genade, sê sy, dat die man oorleef het. As ’n mens kyk hoe die voertuig gelyk het, kon die uitkoms soveel anders gewees het. Tog het hy met relatief min beserings daarvan afgekom.

Ten spyte van die impak van die dag, wou Schutte aanvanklik nie hê mense moes weet sy het gehelp nie. Vir haar is dit nie iets besonders nie.

“Enige van my mede-kollegas sou ook gestop het,” glo sy.

Maar dalk is dit juis wat dit besonders maak. Haar grootste droom is om eendag haar eie kliniek oop te maak. Voor dit wil sy egter ’n paar jaar in trauma werk en in die veld spesialiseer, om haar kennis te slyp waar dit die meeste saak maak.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

Hierdie berig is geskryf deur Tania Coetzee van Potchefstroom Herald.
Back to top button