‘Ons onthou’: Toyota Innibos 22 jaar later
Vir baie sangers en akteurs is die Laeveldse kunstefees die beste fees in die land en dit is ook waarom hulle jaar ná jaar bly terugkeer.
Die Toyota Innibos het verlede naweek op ’n hoogtepunt sy laaste feesasem uitgeblaas, maar volgende jaar is dié fees weer terug, en die jaar daarna ook.
“Hopelik sal toekomstige generasies akteurs, sangers en kunstenaars nog vir jare op die hoofverhoë sing en akteurs vol teatersale trek,” sê Sandra Jacobs, een van die stigterslede van die fees.
Sy was altyd bekend as ‘Innibos se bemarkingstannie’, maar op 65 het sy ’n nuwe feesgewaad aangetrek: die van verhoudingsbestuurder.
“Dit klink soos ’n verheerlike skakelbeampte, maar eintlik moet ek die verhoudings tussen die feesgangers, kunstenaars, media en borge bestuur,” sê Jacobs.
As ’n mens so na die kunstenaars, akteurs en sangers luister wat die afgelope 22 jaar die fees bygewoon het en steeds hulle talente (al is hulle jare ouer) op die verhoë ten toon stel, is Innibos ‘net die beste fees in die land’.

Gat in Afrikaanse kultuur
“As Innibos ooit dood moet loop of tot ’n einde moet kom, sal dit ’n groot gat in die Afrikaanse kultuur laat,” sê Jakkie Louw, sanger en ook nou poppekasmeester.

Louw was nog in sy twintigs toe hy die eerste keer op die hoofverhoog opgetree het. Dit was in 2008, vier jaar nadat dié Laeveldse fees vir die eerste keer die feesterrein se hekke oopgemaak het.
Louw het net so ’n paar maande voor die fees sy – nou nog bekende liedjie treffer – Drie pikkewyne, – vrygestel en hy en sy orkes het behoorlik op die verhoog gerock ’n rol. “Daar was so baie mense. Dit was ’n ervaring wat hy ek nooit sou sal vergeet nie.”
Deur die jare het hy gereeld nuwe produksies of idees aan Innibos se bestuur voorgelê en “gelukkig het hulle altyd van my idees gehou.”
Daarom het hy sedert sy eerste Innibos-fees jaar ná jaar teruggekeer met ’n boekbekendstelling of ’n musiekproduksie of sommer net optredes.
Louw het sowat sewe jaar gelede sy hand aan poppekas-produksies vir kinders gewaag en die afgelope paar jaar was hy nie as sanger by dié fees nie, maar as ’n akteur met sy handpoppe of met kinderteaterproduksies. “Ek het die kinderproduksies verander na Jakkie Nou!! Ek was dié jaar op die fees met die Drie Varkies en die Gen Z Wolf.”
Louw se kinders is deel van die Gen Z-generasie en daarom verstaan hy hulle maar al té goed. “Al is ek nou ouer as gedurende my eerste jare by die fees en dalk ’n bietjie rustiger, sal niemand ooit die Drie pikkewyne uit my kry nie,” skerts hy.
Kunstenaars het gekom en gegaan
Deur die jare het verskeie sangers en akteurs gekom en gegaan. Sommige soos Theuns Jordaan, Lucas Maree en Ben Kruger is oorlede, maar die ander soos Karlien en Bobby van Jaarsveld, Riana Nel en Bok van Blerk is steeds daar.
“Ek onthou by ons heel eerste fees het Karlien en Bobby op een van die oop verhoë gesing. Hulle het toe nog skooluniforms gedra. Ses jaar later het Bobby op die hoofverhoog gesing,” vertel Jacobs.
Daar is baie dinge wat sy die afgelope 22 jaar onthou. Sommige feeste het op ’n hoë noot begin en met ’n vals gefluit geëindig. “In 2014 het Steve [Hofmeyr] die stem van ou Suid-Afrika op die hoofverhoog gesing. Ons het nie vooraf geweet dat hy dit sou doen nie. Dit het nogal baie probleme veroorsaak. Dit was eintlik ’n jammerte,” sê Jacobs.
Sedertdien is Hofmeyr nooit weer genooi om by die fees op te tree nie.
“Ons het ook nie gedink dat ons ooit die Covid-19-pandemie sou oorleef nie. Ons het vir drie jaar nie die fees aangebied nie. Ons moes ons kantoorhuur opsê, salarisse is gehalveer. Ons het dit ook oorleef.”
Jacobs onthou egter meer hoogte- as laagtepunte. “Een jaar – toe ons nog plakkate op die lamppale kon sit – het ons die groep Taxi Violence adverteer. Die stadsraad het die plakkate gesien en was doodbekommerd oor wat by Innibos aan die gang is. Hulle wou ons net kom help en ondersteuning stuur. Ons moes toe mooi verduidelik dat dit net die naam van ’n groep is. Ons lag nou nog daaroor.”
Sy vertel ook hoe die akteurs van die drama Mooi Maria hulle kostuums na ’n droogskoonmaker geneem het. “Hulle wou die kostuums net voor die produksie gaan haal het, maar toe hulle daar aankom was die deur gesluit. Die bordjie het aangedui: ‘Ek is by die Innibos-fees’.
“Ons moes toe maar hot-en-haar rondbel om die droogskoonmaker op te spoor. Dit was ’n periodestuk en ons almal het in ons mans se klerekaste rondgekrap op soek na outydse pakke. Die produksie het al begin en die droogskoonmaker het nog gefees. Die regisseur het ’n bietjie oor die stuk gesels tot kostuums by die saal afgelewer is.”
Louw sê vir hom is die slegste tye van die fees wanneer almal op ’n Sondag begin oppak. Die fees is verby. “Nou moet ek nog ’n jaar wag voordat ek kan teruggaan.”
Die akteur Wynand van Vollenstee was ook dié jaar by die fees met sy produksie Sirkus L’amor waarvan baie optredes uitverkoop is. “Die fees is al so deel van my DNA dat ek nie eers meer kan onthou wanneer ek die eerste keer daar was nie, maar ek dink dit was so 10 jaar gelede.”

“Wat my veral verras het van die jaar se fees is die hoeveelheid jonger mense wat weer terugkeer na die teater toe. By een van ons vertonings was daar kinders, tieners en jong volwassenes. Dit maak my opgewonde, want in ’n stadium was die teatergehore baie ouer.”
Hy beskou ook die fees as die ‘beste in die hele land’. “Die kunstenaars word verskriklik goed behandel. Die ander feeste moet by Innibos begin kers opsteek.”
In die verlede het sommige van die kunstenaars so te kere gegaan in die BBP-sitkamer en -kroeg dat die Innibos-bestuur besluit het dat geen foto’s van kunstenaars daarbinne geneem mag word nie.
“In die vroeë jare van die fees was die drank by die BBP-kroeg gratis. Een baie bekende sanger het binne twee dae die kroeg leeggedrink, dit is ook waarom ons besluit het om die drankies teen kosprys te verkoop,” lag Jacobs.
Louw dink dit is wonderlik dat kunstenaars so by die kroeg kan bymekaarkom. “Dit is asof verskillende wêrelde mekaar daar ontmoet en saam ’n bier drink – die rockers en die klassieke mense, die ernstige akteurs en die komediante.”
“Ek het die jaar ’n glas wyn saam met Lizz Meiring gedrink, ons het lekker gekuier, maar ons weet altyd as die son die volgende oggend opkom, eet ons net ontbyt en dan maak ons die teaters weer vol.”
Meer as 78 000 mense het die fees dié jaar bygewoon. “Ek dink meer plaaslike mense as mense vanuit ander provinsies het die fees besoek. Die rede was maar die petrolpryse. Ons moes ook ons toegangsfooie verhoog, maar dit is steeds goeie waarde vir geld,” sê Jacobs.
Kyk na die video:
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za