Ongeluk by gewilde N4-vulstasie: Man 50m gesleep toe wegholvragmotor bakkie tref

’n Gesin glo dit is ’n absolute wonderwerk dat hul broer leef nadat hy verlede naweek ernstig beseer is toe ‘n vragmotor sy bakkie getref het by die Alzu-vulstasie in Mpumalanga.

‘n Man wat verlede naweek ernstig beseer is toe hy vasgepen is tussen ‘n wegholvragmotor en ‘n bakkie by die Alzu Petroport-vulstasie op die N4 buite Middelburg in Mpumalanga is steeds in die intensiewesorgeenheid van die Life Midmed-hospitaal.

Die familie van Pieter van Niekerk (54) sê dit is ’n wonderwerk dat hy die ongeluk oorleef het. “Sy bekken is vergruis en hy het ’n oop beenfraktuur, wat lyk soos ’n winkelhaak, waaraan hulle nie kan opereer nie,” sê sy suster, Erika du Plooy, wat met Middelburg Observer gepraat het.

Pieter van Niekerk word in die intensiewesorgeenheid behandel. Foto: Verskaf deur die familie.

Sedert sy opname in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal, was hy aan ’n lewensonderhoudende masjien gekoppel. Die familie was dankbaar toe dokters hom gisteroggend kon wakker maak.

“Die dokter het my suster, Mariana Borges, wat sedertdien in Middelburg in ’n gastehuis bly om naby hom te wees, geskakel en gesê sy moet kom, want hy skree van pyn,” sê Du Plooy.

Sy het vertel van die geweldige trauma van die ongeluk, asook die afgelope paar dae weens sy ernstige beserings.

Van Niekerk het saam met ’n paar lede van sy gesin, almal van Gauteng afkomstig, verlede naweek in Machadodorp deurgebring waar hulle vis gevang het.

Op pad terug Gauteng toe, het hulle in ’n konvooi saam op die N4 gery.

Pieter van Niekerk het verlede naweek saam met familie deurgebring in Machadodorp.

Net voor die Alzu Petroport het Van Niekerk vir die ander per selfoon laat weet dat hy gou gaan stop om brandstof in te gooi en dat hulle kan aanhou ry.

By hom in die bakkie was sy suster Thriesa, haar man Ulrich en hul 16-jarige seun, Joshua.

Nadat hulle brandstof ingegooi het, het hulle links gedraai om weer op die N4 verder te ry.

Hulle het die vragmotor, wat teen die afrit gestaan het, gesien en Van Niekerk het ’n hele ent voor die vragmotor gestop om koeldrank agter uit die bakkie te haal.

Joshua wou dadelik uitspring om die koeldrank te kry, maar Van Niekerk het gesê hy sal dit uithaal.

Sekondes nadat Van Niekerk uitgeklim het, het die insittendes ‘n slag gevoel en gehoor.

Met die impak het Thriesa agtertoe gekyk en gesien hoe die trok vir Van Niekerk vasdruk en hulle begin sleep.

“Die bakkie se neus het gedraai, waarop die trok daarna weggehardloop het na die parkeerarea.”

Die ongelukstoneel by die Alzu Petroport-vulstatsie op die N4 in Mpumalanga.

’n Ooggetuie, wat anoniem wil bly, het vroeër die week gesê hy het gesien het hoe die trok weghardloop en dat hy dadelik ’n ambulans gebel het toe hy vir Van Niekerk langs die bakkie sien lê.

Hy is na die Life Midmed-hospitaal geneem waar die familie ’n betaling gemaak het sodat hy in die intensiewesorgeenheid opgeneem kon word.

“Die mediese kostes is astronomies. Dit gaan omtrent R2 miljoen beloop vir sy behandeling,” sê Du Plooy.

Volgens ‘n dokter is Van Niekerk se bekkenbeen ernstig beseer in die ongeluk.

“Hulle sê sy bekken moet soos ’n legkaart weer aanmekaar gesit word, omdat dit so erg gebreek is.”

Die familie wil graag vir Van Niekerk oorplaas na ’n hospitaal nader aan hulle in Gauteng, maar is daar nie dadelik ’n bed beskikbaar nie.

Hulle het ook twee Back-a-Buddy fondse geopen om die mediese en ander uitgawes te probeer dek.

Die polisie ondersoek ’n saak van roekeloos nalatige bestuur.

Du Plooy het hartseer gesê dat dit die tweede keer in twee maande is dat die gesin erge trauma ervaar. Hul ma, Henna, is tweede maande gelede oorlede.

Die familie het mense wat op die toneel gehelp het, paramedici, dokters en personeel van die Life Midmed-hospitaal, Oregan Place Gastehuis en ander wat hulle tans ondersteun met boodskappe en gebede bedank.

Die toneel in die parkeerarea van die Alzu Petroport-vulstasie.

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button