Moordsaak teen 3 uitsmyters van Bloemfontein uitgestel
Mpho Kedumetse Mphepuka (31), Simphiwe 'Gorilla' Dlabu (27) en Justin Ayanda Horn (36) sal Maandag om borgtog aansoek doen.
Die saak teen die drie uitsmyters van ’n Bloemfonteinse kuierplek wat na bewering ’n klant vermoor het, is uitgestel tot Maandag vir ’n formele borgtogaansoek.
“Mpho Kedumetse Mphepuka (31), Simphiwe ‘Gorilla’ Dlabu (27) en Justin Ayanda Horn (36) het [Donderdag] vir die eerste keer almal saam in die hof verskyn en is in aanhouding geplaas in afwagting van verdere borgaansoekinligting,” sê Thabo Covane, die Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Die derde verdagte is Woensdag in hegtenis geneem terwyl hy omstreeks 14:00 in die gim aan die oefen was.
Die moord
Die liggaam van die oorledene (43) is 22 Julie in die parkeerterrein oorkant The Other Venue in Tweedelaan, Westdene, gevind.
Videos op sosiale media wys hoe verskeie mans ’n man in Tweedelaan aanval. In die video kan gesien word hoe die slagoffer geskop en met sy kop op die teer oor die pad gesleep word. Daar is ook op hom gespring. Hy is daarna na die oop parkeerterrein gesleep.
Die Vrystaatse Dobbel-en-drankraad (VSDDR) het die lisensie van die kuierplek naby die toneel waar die man noodlottig aangerand is, tydelik opgeskort.
Lefa Kalane, die waarnemende uitvoerende hoof van die raad, sê hulle het 25 Julie op The Other Venue toegeslaan ná die aanranding.
“Ons het hierheen gekom weens die voorval wat Maandagoggend (22 Julie) gebeur het. Die besluit van [die raad], as die owerheid wat lisensies uitreik, is om kragtens Artikel 117 van die Drankwet The Other Venue se dranklisiensie onmiddellik tydelik op te skort.
“Dit sal wees om die nodige prosesse deur die polisie en ons kollegas by die raad te volg. Ons skort dus hierdie lisensie op. Hulle word nie toegelaat om handel te dryf vir 14 dae nie.
“Hulle sal dan na die VSDDR ontbied word om rekenskap te gee sodat ons kan besluit of hulle met handel kan voortgaan of nie. Tot en met die verhoor sal hulle egter nie toegelaat word om handel te dryf nie,” het Kalane tydens die optrede teen die kuierplek gesê.
Lees die oorspronklike berig op OFM Nuus.
Read original story on www.bloemfonteincourant.co.za