Man (68) wreed op kleinhoewe in Meyerton vermoor

Die polisie is opsoek na inligting en verdagtes nadat Vince Rudolph in sy huis, glo met 'n skroewedraaier, doodgesteek is.

Die polisie het ‘n soektog van stapel gestuur vir die verdagtes wat gisteraand ‘n inwoner van die Boltonwold-kleinhoewes, in Meyerton, wreed vermoor het.

Die 68-jarige Vince Rudolph is glo omstreeks 19:30 in sy huis in Landstraat deur gewapende rowers oorval en vermoedelik met ‘n skroewedraaier doodgesteek.

Die verdagtes het met sy wit Nissan bakkie sowel as ‘n selfoon op die vlug geslaan.

‘n Werknemer van Rudolph het onraad vermoed nadat hy geluide in Rudolph se huis gehoor het.

Hy het later opgemerk dat ‘n skuifdeur in Rudolph se eetkamer gebreek is en het die bure sowel as die gemeenskapspolisieëringsforum ontbied.

Volgens Konstabel Tlaleng Moloi, ‘n woordvoerder vir die polisie in Meyerton, is die oorledene se lewelose liggaam in ‘n plas bloed in sy gang ontdek, met wonde aan die onderkant van sy liggaam.

Die polisie ondersoek ‘n saak van huisroof en moord.

Enigiemand met inligting kan die Meyerton-polisie by 016 360 4700 skakel, die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 bel, of die MySAPS-toepassing gebruik om inligting vertroulik deur te gee.

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button