Ma benodig derduisende vir Oudtshoorniet in Filippynse tronk

Rosetta Bruintjies, die ma van Jolene du Plessis (35), moet teen die einde van die maand R400 000 aan haar grootmaakkind se prokureur betaal.

Rosetta Bruintjies, die ma van Jolene du Plessis (35), wat tans in ‘n tronk in die Filippyne is nadat sy met dwelms in haar besit gevind is, moet ongeveer R400 000 opdok voordat die prokureur wat vir haar dogter aangestel is met sy dienste voortgaan.

Die nuus van Du Plessis se arrestasies het wyd opslae gemaak. Sy is 10 September op die Ninoy Aquino Internasionale Lughawe Terminaal 3 in hegtenis geneem ná die dwelms na bewering in haar tas gevind is.

Volgens ‘n berig van Philstar, ‘n Filippynse koerant, is sy met haar aankoms aangekeer en is sy met 5.26kg metamfetamienhidrochloried betrap. Sy het glo van Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate gevlieg. Daar is ook op haar selfoon en paspoort beslag gelê.

‘Ek wou beter vir haar hê as die vullishope’

Bruintjies sê Du Plessis is haar grootmaakkind en dat sy na haar kyk vandat sy ongeveer nege jaar oud is.

“Sy het op die vullishope rondgeloop. Ek wou beter vir haar hê en het haar verder grootgemaak. Sy is ‘n goeie kind en was nog nooit by snaakse goed betrokke nie.”

Volgens haar sou Du Plessis Kaap toe gaan en was sy totaal verstom toe sy die oproep kry dat Du Plessis in hegtenis geneem is.

“Dit voel onwerklik. Asof dit nie met ons gebeur nie. Haar prokureur het met my kontak gemaak. Hy het al drie keer vir haar verskyn en nou moet ek derduisende rande betaal wat ek nie het nie.

“Ek weet nie waar ek dit gaan kry nie. As ek dit nie betaal nie gaan hy haar nie verder verteenwoordig nie.”

Hofverigtinge

Sy het reeds drie keer in die hof verskyn en moet weer op 3 Oktober verskyn.

Die prokureur het aan Bruintjies gesê dat hy definitief om borgtog wil aansoek doen en ook ‘n mosie indien dat sy intussen gehospitaliseer word aangesien sy siek is en nie haar medikasie het nie.

Bruintjies sê dat sy by binnelandse sake was, maar dat hulle haar nie kan help nie.

“Ek weet nie waarheen om te gaan vir hulp nie, ek weet ook nie wat om te doen nie. Ek kan net Saterdae met haar praat. Die onsekerheid is nie lekker nie. Ek kyk ook na haar seuntjie en hy wil net sy ma terughê. Ek het dit aan hom probeer verduidelik, maar hy is ook net ‘n kind,” vertel sy.

Volgens haar het die prokureur gesê dat hy die geld teen die einde van die maand nodig het.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

Back to top button