Konstabel verskyn weer in Brits-hof ná neef se skietdood

Tebogo Wilson Makwela (43) van die Tshwane Metropolisie is aangekla van die moord op sy neef, Thomas Lebese (44).

‘n Konstabel van die Tshwane Metropolisie word vandag weer in die Brits-landdroshof op aanklagte van moord en poging tot moord verwag.

Tebogo Wilson Makwela (43) is in hegtenis geneem ná sy neef, Thomas Lebese (44), wat by Hoërskool Brits gewerk het, Saterdag ongeveer 04:30 in ‘n straat in Damonsville verskeie kere geskiet is.

‘n Agtienjarige man is tydens die skietvoorval gewond.

Volgens polisiewoordvoerder Kolonel Adele Myburgh was Lebese en Makwela in die straat toe hulle die 18-jarige en twee vriende teëgekom het.

“Dit wil voorkom asof daar ‘n konfrontasie was waartydens Makwela glo vir Lebese en die 18-jarige geskiet het. Lebese is verskeie kere, ondermeer in die maag en kop geskiet en is dood deur die polisie op die toneel gevind. Die 18-jarige is in albei bene getref en is hospitaal toe geneem. Die polisie het hom by die hospitaal opgespoor en aangesien sy beserings nie ernstig was nie, het hy polisiebeamptes na die polisiekantoor vergesel om ‘n verklaring af te lê,” het Myburgh gesê.

Met hulle aankoms by die polisiekantoor was die beweerde moordenaar reeds daar om ‘n ‘aanval’ aan te meld.

“Die jong man het hom as die skieter herken en vir die polisie uitgewys. Makwela, ‘n konstabel by Tshwane Metropolisie, is in hegtenis geneem en het Maandag in die Brits-landdroshof op aanklagte van moord en poging tot moord verskyn. Die saak is tot 19 Julie uitgestel,” het Myburgh verduidelik.

Hoërskool Brits het dié week ‘n huldeblyk vir Lebese op hulle Facebook-blad geplaas: “Dit is ‘n hartseer tyd vir die Hoërskool Brits-gemeenskap en vir almal wat Thomas Lebese geken het. Lebese was bekend vir sy buitengewone menslikheid, harde werksetiek en onwrikbare trots in sy werk by Hoërskool Brits. Sy medemenslikheid het hom ‘n geliefde lid van die gemeenskap gemaak en sy toewyding aan sy pligte was ongeëwenaard.

“Hy was ‘n ware voorbeeld van ‘n persoon wat nie net sy werk met passie gedoen het nie, maar ook ‘n brug gebou het tussen mense met sy vriendelike en hulpvaardige geaardheid. Sy nalatenskap van harde werk en integriteit sal vir altyd voortleef in die harte van diegene wat hy aangeraak het.”

Read original story on kormorant.co.za

Back to top button