Kind (3) bid hardop terwyl krokodil man in water in trek

'n 36-jarige man is in 'n Middelburg-hospitaal opgeneem nadat hy Saterdag deur 'n 4m-lange krokodil gegryp is.

Twee vroue het met ’n stomp ’n 4m-lange krokodil op die kop geslaan om ’n man uit sy kake te bevry, terwyl ’n driejarige seuntjie ’n entjie verder in die modder gebid het.

Hierdie gebeure het laat Saterdagmiddag op ’n plaas in die klowe op die Avontuurpad tussen Middelburg en Loskopdam afgespeel.

“Die Here het die stomp daar gesit, want Anthony het begin moeg word. Ek het gegil, ‘die krokodil trek hom in!’ waarop Annalize [Joubert] die krokodil weer op sy kop geslaan en hy gelos het.”

Bianca van der Colff raak kort-kort emosioneel as sy van dié traumatiese ervaring vertel waar Anthony Joubert (wie hulle sommer ‘Antonie’ noem) in enkeldiepte water aangeval is. Sy vertel dat hulle die naweek vir Anthony en sy vrou, Annalize, en hulle drie kinders: JP (12), Lisa (20) en Ashleigh (6) saamgevat het na een van hulle vriende se plaas toe.

Omstreeks 17:00 het hulle almal buite gesit en gesels. “Ons het nog nie eers die vure aangesteek nie en niemand het eers ’n drankie gedrink nie.”

Vreugde word traumatiese ervaring

Anthony se seuntjie, JP (12), het toe opgewonde geskree dat hy ’n vis gevang het. Almal het dam toe gehardloop en het gesien dat die lyn en hoek, met die vis nog daaraan, aan ’n boom se tak (wat in die water gehang het), vasgehaak het.

Groot opwinding het geheers onder die volwassenes en kinders, want dit was die eerste vis vir die naweek. Anthony het na die boom toe gedraf om die vis los te maak.

“Die volgende oomblik het die reuse krokodil uit die water gespring en Antonie gegryp. Ons dink hy was agter die spartelende vis aan, maar het Antonie gevat.”

Voor die oë van die groep volwassenes en jong kinders het hulle gesien hoe die krokodil se kake om Anthony se maag en heupe klem.
Hy het self teen die krokodil probeer veg, maar hulle het besef hy sal niks kan doen teen dié reuse dier nie.

Bianca se man, Johan, het Anthony aan die arms beetgekry om hom uit die kake te probeer trek, maar die krokodil se kake het nie ’n aks gelig nie. Hy het vir ’n breukdeel van ’n sekonde vir Anthony gelos, maar hom dadelik weer in ’n sterker greep begin byt en ook begin skud.

Anthony se vrou, Annalize, het ’n boomstomp beetgekry, na die krokodil toe gehardloop en met al haar mag hom op die kop begin slaan. Bianca het hom ook met ’n stok geslaan, maar met haar ander hand vir Annalize aan die klere beetgekry en haar vasgehou.

“Ek het haar vasgehou, want as sy gegly het, sou die krokodil haar ook gevat het. Anthony het probeer terugveg deur sy vingers in die krokodil se oë te druk en sy vingers het oopgebars.”

Die vislyn met die vis het vasgehak aan dié boom se tak. Foto: Verskaf.

Uit die hoek van haar oog, het Bianca gesien hoe haar driejarige seuntjie, Janco, op sy knieë in die vlak modderwater gaan staan. “Hy het aanmekaar: ‘Amen Jesus’ gesê en ook begin sing: ‘Daar is vissies in die water…’ [‘n bekende kinderliedjie].”

Johan het intussen gehardloop en ’n pistool gaan haal, waarmee hy in ’n veilige area (weg van die vroue en kinders af) skote geskiet het, met die hoop dat die krokodil vir Anthony sal los.

Die stomphoue op sy kop, Anthony se vingers in sy oë, die gillende kinders en die skote, het waarskynlik die krokodil ontsenu, wat vir Anthony gelos en onder die wateroppervlak verdwyn het.

Johan het die bloeiende Anthony uit die water opgetel en hom op ’n dek neergesit waar die vroue die wonde skoongespoel, ontsmet en met verbande begin toedraai het.

“Daar is nie sein op die plaas dat ons ’n ambulans kon bel nie. Ek het gelukkig altyd ’n noodhulptassie by my en ons het na die beste van ons vermoeë die gapende wonde op sy maag, lies en bobeen verbind. Ons kon tot op die been sy beserings sien.”

Dié foto van Anthony en Annalize Joubert is etlike minute voor die krokodil-aanval geneem. Foto: Verskaf.

Hospitaal toe

Hulle het Anthony gemaklik gemaak in Johan se voertuig en hy het die byna onbegaanbare plaaspad aangedurf om Anthony by ’n hospitaal te kry. Die vroue en kinders het op die plaas agtergebly.

“Voor hulle gery het, het ek dat sy vrou en kinders hom soen en druk… dit was so moeilik, want die kinders het heeltyd gevra of hulle pa dood is…of hy nog leef….”

Omdat die plaas so ver en die pad so sleg is, het Johan op ’n stadium by Kranspoort gestop om te kyk of Anthony nie erger bloei nie en het hy weer verder hospitaal toe gejaag.

Hy was omstreeks 20:00 by die hospitaal en het sy vriend ingedra, waar die die verpleegsters vir Anthony in ’n rolstoel laat sit het. Anthony het aan erge skok gely en vir Johan gevra om vir hom sigarette en ’n koeldrank te bring.

Johan het gejaag om dit te gaan kry, maar met sy terugkeer het die sekuriteit geweier dat hy weer teruggaan om dit vir hom te gee.

Johan en Bianca van der Colff. Foto: Verskaf.

Teen Sondag was Anthony in geweldige pyn en het familie besluit om hom te skuif na die Life Midmed Hospitaal, waar hy dadelik opgeneem is om die wond op sy maag met steke te heg.

Infeksie het egter reeds ingetree op die lies en bobeen en hy sal nog opvolgbehandeling moet kry. Sy stukkende hande is ook ontsmet en toegemaak.

Johan is terug plaas toe, maar op pad het sy voertuig se wiel gebars en moes hy dit eers rui, voor hy almal in kennis kon stel dat Anthony wel gehelp is. Bianca sê sy het vir Annalize en die kinders na haar huis toe geneem.

Sy voeg by: “Dit is nie die eienaar [van die plaas] se skuld nie. Oral is bordjies op dat daar ’n krokodil is. Dit is egter die eerste keer in ses jaar dat ons die krokodil gesien het toe hy vir Antonie gevat het.”

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button