Kempton Park-skoolseun sterf ná rugbywedstryd in Polokwane

Hoërskool Pietersburg en Hoërskool Jeugland betreur die afsterwe van tweedespanrugbykaptein Emmanuel Makwiting (17).

Hoërskool Pietersburg (PHS) in Polokwane het hulle medelye uitgespreek na die afsterwe van ‘n Hoërskool Jeugland-rugbyspeler wat ná ‘n besering die naweek, gisteroggend oorlede is.

PHS en Jeugland van Kempton Park in Gauteng se spanne het Saterdag by PHS in die SDC Noordvaalreeks teen mekaar te staan gekom.

Emmanuel Makwiting (17), die tweedespanrugbykaptein wat as flank vir dié span uitgedraf het, het kort voor halftyd in sy span se wedstryd, na ‘n losgemaalbeweging op die veld bly lê.

Volgens bronne het hy vermoedelik ‘n nekbesering opgedoen.

Nooddienstewerkers het hom gestabiliseer en hy is per ambulans na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal geneem.

Na aanvanklike inligting dat hy Maandagoggend geopereer sou word, is hy egter oorlede.

PHS het gister in ‘n persverklaring gesê die skool en die hele Pietie-gemeenskap betreur Emmanuel se afsterwe.

“Namens die hoof, die beheerliggaam en die hele Pietie-gemeenskap wil ons graag ons opregte medelye en simpatie teenoor Emmanuel se gesin, sy spanmaats, vriende en die Jeuglandgemeenskap uitspreek. Ons bid saam vir vertroosting in hierdie moeilike tyd,” lees die verklaring.

Emmanuel se ouers kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Hoërskool Jeugland het kort na 12:00 in ‘n plasing op Facebook gesê: “Op 15 Julie het die Jeugies ‘n vriend en ‘n ‘broer’ verloor, maar die hemel het ‘n engel gekry. Hoërskool Jeugland betuig graag hul innige meegevoel met sy familie. Manu, jy sal baie gemis word deur almal wat die voorreg gehad het om jou te ken.”

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button