Jong pa sterf in gru-botsing op R40 naby Witrivier
Volgens inligting is die jong man dood na sy voertuig met ‘n ander, vol toeriste van Spanje, gebots het.
‘n Geliefde Witrivier-inwoner, Buks Welthagen (30), was Woensdagaand in ’n noodlottige motorongeluk op die R40 naby Msholozi betrokke.
Weltagen, beter bekend as Buksie, was omstreeks 18:30 vanaf Witrivier na Mbombela onderweg toe sy voertuig teen dié van ‘n ander gebots het. Die voorval het duskant die Msholozi-kruising plaasgevind.
Volgens inligting is sy voertuig met impak teen ’n boom vasgeslinger, terwyl die ander motor in ’n sloot beland het. Die insittendes, glo toeriste van Spanje, het geringe beserings opgedoen.
Dewald Strydom, operasionele bestuurder en paramedikus van iSecure EMS wat op die toneel was, het gesê die botsing was uiters ernstig en dat Weltagen op die toneel aan sy beserings beswyk het.
Die oorsaak van sy dood en presiese besonderhede rondom die ongeluk, is nog nie bekend nie.
Weltagen word onthou as ’n passievolle en avontuurlustige mens wat gans te vroeg gesterf het. Die huldeblyke wat intussen op sosiale media instroom, wys hoe geliefd hy was en hoe groot die leemte wat hy agterlaat is.
“Dertig jaar was veels te min, maar geen oomblik was gemors nie. Jy het geleef soos min mense durf, voluit, sonder filters, sonder voorgee. Net deur jouself te wees, kon jy mense laat lag, lig bring waar dit donker was, en ’n spoor los wat nie uitgewis kan word nie.
“Alles wat jy gedoen het, het jy met jou hele wese gedoen. Dis altyd Buks of niks gewees, geen halfpad, geen twyfel. Jy was, is en sal altyd een van die Laeveld se rotse bly.
“Ons harte breek vir Ledéle Vorster en julle pragtige twee kinders. Hulle was jou wêreld, jou trots, jou alles,” het Gerhard Sinden geskryf.
Sy buurman, Bruce Macaulay, het vertel dat hy baie lief was vir sy kinders en familie. Hy het onlangs sy 30ste verjaardag gevier.
Hy was die eienaar van Inyati Fencing en het graag tyd saam met vriende en familie deurgebring. Hy laat sy verloofde, Ledéle Vorster, en hulle twee kinders, Buks jr. en Bea, agter.
Die familie was teen publikasietyd nog nie in staat om kommentaar te lewer nie, en begrafnisreëlings is nog nie bekend gemaak nie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za