Innibos 2026: Ervaar die fees vanjaar in eksklusiewe styl
Feesgangers kan hulself regmaak vir ’n onvergeetlike bederf met ’n sterbelaaide lys kunstenaars en opwindende nuwighede. Vir besoekers wat op soek is na daardie tikkie ekstra, beloof vanjaar se Goue Sirkel om alle verwagtinge te oortref.
Die Toyota Innibos 2026 beloof om selfs groter en beter as vantevore te wees. Met ’n uitgebreide premium-feeservaring en strategiese veranderinge op die terrein, word daar verseker dat meer feesgangers die verrigtinge in eksklusiewe gemak kan geniet.
Die gewilde fees skop op Donderdag, 2 Julie, in Mbombela af.
Andy Lubbe, feesbestuurder van Innibos, sê die nuwe “Bespreekte Area” is spesifiek ontwerp om aan feesgangers ’n luukser ervaring te bied. Dit sluit ’n vergrote area vir bespreekte stoele (Goue Sirkel), kuiertafels en veldlosies tydens die aandkonserte in.
Daar sal elke aand (Donderdag tot Saterdag) 50 kuiertafels vir ses mense elk, asook 540 bespreekte stoele in die Goue Sirkel beskikbaar wees. Vir diegene wat nader aan die aksie wil wees, beloof die mosh pit voor die hoofverhoog – waar oud en jonk die litte kan losgooi – om ’n groot hoogtepunt te wees.
Lubbe verklap ook dat die fees vanjaar propvol verrassings is. Benewens die hoofprogram, gaan verskeie gaskunstenaars onverwagte verskynings op die verhoog maak.
Hoofverhoog-vermaak
- Donderdagaand: Die Huisgenoot Afskopkonsert trek die fees op ’n hoë noot weg met groot name soos Die Heuwels Fantasties, Elvis Blue en Karlien van Jaarsveld. Gunstelinge soos Ricus Nel, Van Pletzen en Die Piesangskille sal sorg vir ’n aand van nostalgie en saamsing-pret.
- Vrydagaand: Die Jacaranda FM-konsert bied ’n kragtige kombinasie van genres. Van die popklanke van Bobby van Jaarsveld en Juanita du Plessis tot die alternatiewe energie van Fokofpolisiekar en Spoegwolf. Riaan Benadé en Zaan Sonnekus sal ook die gehoor op hul voete hou.
- Saterdag: Die dag begin met groot gees wanneer die Springbokke se kragmeting teen Engeland op die groot skerms uitgesaai word. Om 19:00 bars die kykNET-hoofverhoog los met ’n sterbelaaide program wat Appel, Francois van Coke, Brendan Peyper, Early B, Elandré en BlackByrd insluit.
Toegang en kaartjies
Algemene feesterrein-toegang:
Hierdie kaartjie bied toegang tot al die stalletjies en die geleentheid om die konserte vanaf die paviljoene of die grasperk rondom die Bespreekte Area te geniet.
- Donderdag: R250
- Vrydag: R325
- Saterdag: R385
Goue Sirkel: Die premium-ervaring

Vir ’n meer eksklusiewe ervaring kan feesgangers kaartjies vir die Goue Sirkel uitneem. Let wel: Kaartjies vir die Bespreekte Area sluit nie algemene feestoegang in nie; dit moet apart aangekoop word.
- Kuiertafels (Sitplek vir ses):
- Donderdag: R1 210
- Vrydag: R1 810
- Saterdag: R2 110 (Bespreekte tafels ontvang ses individuele armbande by die Goue Sirkel-ingang met die vertoon van ’n besprekingsbewis).
- Bespreekte stoele (Individueel):
Ideaal vir diegene wat in die Goue Sirkel wil sit sonder om ’n volle tafel te bespreek.- Donderdag en Vrydag: R160 per persoon
- Saterdag: R210 per persoon
Veldlosies en korporatiewe geriewe
Daar is nog ’n beperkte aantal veldlosies beskikbaar, wat uiters geskik is vir korporatiewe onthaal. Elke losie het sy eie kelner vir drankbediening vanaf die kroeg. Feesgangers in die Bespreekte Area is welkom om hul eie feeskos by die stalletjies te koop en dit binne die area te geniet.
Parkeerkaartjies op die feesterrein is beskikbaar teen R260 per dag.
Vir besprekings en meer inligting, besoek www.innibos.co.za.
Read original story on www.citizen.co.za