Wraakaanval op eMkhondo: Boer bykans keel-af ná doringdraad in pad 

Twee verdagtes is kort ná 'n voorval op 'n plaas in Mpumalanga vasgetrek, maar die polisie het hulle intussen bloot met ’n waarskuwing laat gaan.

’n Bekende boer van eMkhondo (Piet Retief) se keel is vroeër die week byna afgesny ná plaaswerkers glo doringdraad oor ’n grondpad gespan het.

Dit volg uit beweerde weerwraak oor die ‘oubaas se moeilike houding’.

Ken Baxter (83) van die bekende pluimveeplaas Abilene Poultry Breeders, tussen Amsterdam en eMkhondo is twee dae ná die voorval uit die hospitaal ontslaan en sterk nou tuis aan.

Kaptein N.C. Mavuso, die groepbevelvoerder van die polisie se eenheid vir ernstige en geweldsmisdade op Piet Retief, het bevestig dat twee verdagtes Woensdagmiddag (24 Junie) ondervra is, maar op waarskuwing vrygelaat is. “Ons kan bevestig dat ’n klag gelê is, maar dat die aanklagte nog nie geformuleer is nie.”

Intussen het gerugte op WhatsApp die ronde gedoen dat ‘Baxter in ’n plaasaanvaal vermoor is’. Stemboodskappe is selfs versprei waarin beweer word dat Baxter met ‘n guerilla-tegniek so reg uit die Grensoorlog se modus operandi’ vermoor is. Dié gerugte is egter uit verskeie oorde ontken.

Henry Geldenhuys, die voorsitter van TLU SA, het gesê die organisasie is diep besorg oor die voorval en veroordeel die aanval ten sterkste. Ons wil dit egter duidelik maak dat dit nie beskou moet word as ’n plaasaanval nie, maar eerder ’n wraakaanval.

Ruan Paul, die eienaar van PBM Tactical, ’n privaat sekuriteitsonderneming op eMkhondo het vroeër vanoggend aan Caxton Network News gesê dat hy eerste op die toneel was.

“Tessa het ons gebel en gesê dat haar man ernstig beseer is. Ken, wat ook met beeste boer, het ’n daaglikse roetine: Om elfuur die oggend klim hy op sy motorfiets om na sy beeste te gaan kyk. Doringdraad het die grondpad versper en Ken – wat dit nie gesien het nie – het daarin vasgery. Die doringdraad het sy keel oopgeruk,” sê Paul.

Paul noem dat hulle twee verdagtes in die veld opgemerk en ’n burgerlike arrestasie uitgevoer het. Dié twee mans het na bewering beweer dat die ‘oubaas baie kwaai is en dat hulle hom net ’n les wou leer.’

Volgens Paul het hulle die mans na die naaste polisiestasie geneem, maar die polisie wou aanvanklik nie eens ’n klag aanhangig maak nie. “Hulle het die verdagtes net vrygelaat. Ken moes blykbaar self die klag gaan lê, en hoe meer ons verduidelik het dat hy in die hospitaal is, hoe minder wou die polisie na ons luister.”

Ken se grond is al sedert die vroeë negentienhonderds in die Baxters se besit. Verskeie probleme, waaronder die voëlgriep-epidemie van 2023, het groot skade aan sy boerdery aangerig. Hy het ook min of meer gedurende daardie stadium die plaas in die mark gesit.

Paul sê dat Baxter ernstige finansiële verliese gely het en dat dit hom in ’n mate gedwing het om baie van sy werkers af te dank. Dit was nie die eerste keer dat daar arbeidersonrus op die plaas is nie.

Baxter en sy vrou, Tessa, se selfone was af en hulle kon nie vroeër vandag (27 Junie) vir kommentaar bereik word nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Yolanda Lemmer

Yolanda Lemmer has been a journalist for the past 20 years. She enjoys writing about people, culture, the arts, and human-interest stories that portray everyday South African life.
Back to top button