Hond kom tot vrou se redding tydens plaasaanval naby Bronkhorstspruit

‘n Egpaar sê hulle hond, Simson, verdien ‘n goue medalje nadat hy ‘n vermeende plaasaanvaller afgeweer het. Hendrik Opperman vertel van die gruwelike aanval op sy vrou.

Sy was in die badkamer besig toe die hamerhoue skielik van agter oor haar val. Grietha Opperman (75) was op 4 Julie omstreeks 20:15 in die badkamer van haar en haar man, Hendrik se woonhuis op Witpoort toe die ondenkbare met haar gebeur het.

’n Aanvaller het haar van agter oorval en haar met ’n hamer aangeval. Sy was volgens Hendrik verskeie kere met die hamer oor die kop en rug geslaan. Die aanvaller het haar glo verder op die vloer neergegooi en herhaaldelik geskop.

Streeknuus is in besit van videomateriaal vanaf veiligheidskamera’s wat die aanval op Grietha uitbeeld en bevestig.

“Hy het vir haar gesê dat hy haar gaan doodmaak en het haar toe tot by die agterdeur gesleep,” het Hendrik aan Streeknuus meegedeel.

Grietha Opperman word deur paramedici vanaf die toneel van ’n vermeende plaasaanval na die ambulans geneem.

Volgens Hendrik het die aanvaller vir Grietha terug na die slaapkamer gesleep waarna hy die kluis se sleutel geëis het.

“Ons hou egter nooit kontant in die huis aan nie.”

Grietha het die kluis se sleutel aan die aanvaller oorhandig. Pogings om dit oop te sluit het egter misluk.

As troosprys het Grietha se aanvaller Hendrik se beursie met R129 en al sy kaarte daarin gebuit en begin om kaste en laaie oop te ruk en die inhoud uit te gooi.

Volgens Hendrik is die aanvaller hierna met Grietha na die motorhuis waar hy haar, volgens Hendrik, wou vermoor. Gedurende hierdie tyd van angs vir Grietha was Hendrik in die kantoor van die melkstal.

Die Oppermans se 20 maande oue Blumenweiler, Simson Professor Danté se blaf het vermoedelik die aanvaller weggejaag.

“Ons Blumenweiler, genaamd Simson, het skielik ongekend aggressief begin blaf. Hy het selfs teen die venster opgespring, so asof hy daardeur wou spring. Ek het vir Simson uitgelaat waarna hy in die rigting van die huis gehardloop het,” het Hendrik vertel.

Simson se aggressiewe blaf het na alle waarskynlikheid die aanvaller afgeskrik, want hy die beursie net daar laat val en vir Grietha in ’n plas bloed agtergelaat.

Grietha kon daarin slaag om haarself in die badkamer toe te sluit en het vir Hendrik vandaar gebel.

“Ek het huis toe gejaag en die toneel wat daar op my gewag het, was onbeskryflik gruwelik en sal seker vir ewig in geheue ingeprent bly.

“Tussen vloere, mure en selfs plafonne vol bloed was my dierbare vrou Grietha. Bloed het van oraloor oor haar gestroom. Sy het erg aan skok gely en was duidelik in baie pyn.”

Volgens Hendrik het instink oorgeneem en het hy onmiddellik hulp vanaf die bure ontbied. Veiligheidsgroepe was geaktiveer en Netcare 911 ontbied.

Hendrik het verder vertel hul buurvrou het gehelp om die bloeding te stop deur Grietha se kopwonde te verbind.

Paramedici was vinnig op die toneel; Grietha was gestabiliseer en na die Pretoria-Oos Hospitaal vervoer.

Grietha is met gebreekte ribbes en tande en diep wonde aan haar gesig, kop en rug in die hoësorg-eenheid opgeneem.

Hier het sy ’n week deurgebring waarna sy na afsonderingsaal oorgeplaas was. Na ’n verdere drie dae in die hospitaal is Grietha op 10 Julie ontslaan met steke in haar gesig en kop – die tekens van die aanval op hierdie klein vroutjie.

“Grietha is uiteraard nog baie getraumatiseerd, maar ons is dankbaar dat sy tuis is. Vir ons 20 maande-oue Simson wens ons net ’n goue medalje.”

Grietha Opperman herstel in die hospitaal na ’n plaasaanval.

Die Oppermans bedank elkeen wat hulle bystaan in hierdie beproewingstyd.

“Ons gemeenskap is baie na aan mekaar en ’n ondersteuningsgroep is gestig. So baie is verbaas en verslae, want ons plaas en woonhuis is bekend vir hoë sekuriteit. Verder kan mense nie glo dat ons, as die oudste inwoners van die omgewing, die slagoffers van ’n plaasaanval geword het nie.”

Wat Grietha se aanvaller aanbetref, hy het nog voordat die polisie ’n soektog na hom kon van stapel stuur, homself in die spoorwegpolisie vasgeloop.

Volgens Hendrik het lede die man in vars bebloede klere opgemerk en hom in hegtenis geneem.

Die man, glo bekend aan die Oppermans, het op 8 Julie in die Welbekend-landdroshof op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en roof verskyn.

Teen druktyd kon sy identiteit nog nie bevestig word nie. Hy moes weer op 17 Julie in die hof verskyn waar hy glo om borg sou aansoek doen.

Grietha en Hendrik Opperman in gelukkiger tye.

Die Opperman-egpaar vier ook beide hul 77ste en 76ste verjaarsdae in Julie en hul huweliksherdenking is vir 8 Augustus op die kalender aangeteken.

“Ek sou dit bitter graag rustig saam my liefste Grietha om ’n kampvuur iewers in die Bosveld wou vier, maar vir nou is ons net dankbaar en prys ons die Here dat haar lewe in hierdie wreedaardige aanval gespaar gebly het. Dit kon soveel erger gewees het.”

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button