Chubby Chick-skietery: Saak uitgestel, slagoffer steeds onder verdowing
Deon Fourie is steeds in 'n intensiewe hoësorgeenheid in Gauteng ná 'n skietery in Potchefstroom wat die lewe van sy broer geëis het.
Deon Fourie, ‘n mededirekteur van Chubby Chick in Potchefstroom, is steeds onder verdowing in die intensiewe hoësorgeenheid van ’n hospitaal in Gauteng. Deon is kritiek beseer en sy broer, Johnathan, oorlede ná ‘n skietery verlede Maandag by die besigheid in Potchefstroom se industriële gebied.
John-Henré Engels, die waarnemende bestuurder van dié maatskappy, het aan Potchefstroom Herald vertel dat die verdowing na verwagting vandeesweek geleidelik verminder word. Volgens Engels het Deon noodchirurgie ondergaan nadat hy per helikopter na die hospitaal geneem is. Deon is verlede Donderdag weer geopereer en dit was volgens mediese personeel suksesvol gewees.
Volgens Engels is daar in hierdie stadium geen bykomende inligting beskikbaar buiten wat in die amptelike mediaverklaring wat verlede week deur Chubby Chick uitgereik is nie.
Potch Old Boys het Sondag op hulle Facebook-blad bekendgemaak dat die dokters tevrede is met Deon se vordering en dat hy onder verdowing sal bly. Met ‘n volgende plasing vroeër vandag het hulle egter bekendgemaak dat hy ‘n rustelose nag gehad het en koors opgebou het.
Kersliggedenkdiens en hofverskynings
‘n Kersliggedenkdiens is verlede week vir Johnathan gehou.
Die verdagte, Robbert Joubert (73), het verlede Woensdag en vandag in absentia in die Potcshefstroom-landdroshof versykn.
Polisiewoordvoerder Kolonel Adéle Myburgh sê Joubert word aangekla van moord en poging tot moord. Hy is tans steeds in die hospitaal en die saak is tot 11 Desember uitgestel.
Johnathan is op die toneel doodverklaar en Deon is in ‘n kritieke toestand per heilikopter na ‘n hospitaal in Johannesburg gehaas.
Die voorval
Volgens inligting is ’n vergadering tussen die twee direkteure, Johnathan en Deon, en Joubert gehou, vermoedelik oor ’n eiendomstransaksie. Ná die vergadering het Joubert glo die gebou verlaat, maar ongeveer 30 minute later teruggekeer. In daardie stadium was Deon steeds in die raadsaal en Joubert het glo die gebou binnegekom. Deon was verskeie kere geskiet, glo deur Joubert. Deon het om hulp geroep, waarna Johnathan onmiddellik gereageer en Joubert glo in die raadsaal ontmoet het, waar hy ook verskeie kere geskiet is.
Sekuriteitspersoneel het toegetree en ’n verdere skietvoorval het plaasgevind. Joubert is gewond en na ’n plaaslike hospitaal vervoer, waar hy tans onder streng polisie toesig is.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za