Broers gearresteer ná moord in die Noord-Vrystaat

Ashley van Wyk (29) is gesteek nadat 'n herrie ontstaan het, glo omdat 'n man nie sigarette by eersgenoemde se groep vriende kon kry nie.

Twee broers is gisteroggend deur die polisie in Heilbron, in die Noord-Vrystaat, gearresteer in verband met die moord van 29-jarige Ashley van Wyk.

Polisiewoordvoerder Sersant Josephine Rani sê Van Wyk het verskeie steekwonde gehad.

Sy noem dat die voorlopige ondersoek daarop dui dat die 26-jarige en 29-jarige broers vir Van Wyk en van sy vriende in Willemse straat in die Sandersville-area gekry het waar hulle na bewering by ‘n huis sit en drink het.

Een van die verdagtes wou toe glo sigarette by hulle hê, en toe hy dit nie kon kry nie, het hy na bewering agressief geraak.

Rani sê dit word verder beweer dat die broers na ‘n tyd glo buitentoe beweeg het saam met Van Wyk, waarop hy aangerand en met ‘n mes gesteek is.

Die twee verdagtes is later in Sandersville by Heilbron gearresteer en sal Woensdag voor die Heilbronse landdroshof verskyn op klagte van moord.

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button