Brandstofpryse dreig boere, ondernemings en verbruikers

Ekonoom Dawie Roodt en ander kenners verduidelik watter implikasies 'n stygende olieprys en ’n verswakkende rand kan inhou.

Sake het oor die afgelope week merkbaar versleg, met ’n stygende olieprys en ’n verswakkende rand wat die druk op brandstofkoste en die breër ekonomie regoor die land verder verhoog.

Oudtshoorn Courant berig dat die bekende ekonoom Dawie Roodt sê dit hou groot implikasies vir boere, besighede en verbruikers in.

Volgens hom het internasionale onsekerheid weens die konflik tussen die VSA en Iran die olieprys skerp laat styg. 

“Hierdie konflik beteken dat brandstofpryse, insluitende petrol en diesel, waarskynlik verder gaan toeneem,” sê hy.

Die nuutste brandstofaanpassing het op 4 Maart in werking getree: Petrol het met 20c per liter gestyg, terwyl diesel tussen 62c en 65c per liter gestyg het.

Vroeë voorspellings wys dat verdere groot styginge in April moontlik is. Petrol kan met R3.87 tot R4.27 per liter styg, en diesel selfs meer.

Nie net motoriste wat geraak word nie

Roodt waarsku ook dat die hoër olieprys insetkoste soos kunsmis opjaag, wat weer voedselpryse kan beïnvloed.

“Beleggers vlug na die Amerikaanse dollar in tye van onsekerheid, wat veroorsaak dat die rand verswak. ’n Swakker rand maak invoere duurder en plaas verdere druk op inflasie,” sê Roodt.

Hy sê dit maak die Reserwebank senuweeagtig en kan moontlik tot hoër rentekoerse lei, wat verbruikers se besteding en ekonomiese groei kan verminder.

Roodt beklemtoon: “Hoe langer die olieprys hoog bly, hoe groter word die probleem.”

Brandstofpryse in Suid-Afrika word maandeliks aangepas, gewoonlik op die eerste Woensdag van elke maand, volgens ’n spesifieke formule wat grootliks afhanklik is van internasionale oliepryse en die rand/dollar-wisselkoers.

Hierdie aanpassings word deur die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie bepaal.

Boere aan Tuinroete voel die pyn

Die styging in dieselpryse gaan ’n groot finansiële impak op boere hê, waarsku Henry Meyer, die voorsitter van Agri Wes-Kaap.

“Vir ’n gemiddelde saaiboer wat sowat 1 000 hektaar bewerk, praat ons van 14 000 liter diesel net vir die plantproses. Teen die huidige prys van R18 per liter, beteken dit ’n uitgawe van ongeveer R252 000. Indien diesel met byvoorbeeld R6 per liter styg, wat die voorspelling is, kom daar ’n addisionele R84 000 by,” sê Meyer.

Hy noem dit is boonop ook net om die saad in die grond te kry. “Daarna volg bespuitings, verdere bewerkings en die oesproses. Teen die einde van die seisoen tel alles tot ’n enorme bedrag op.”

Ook die melk- en groentebedryf sal geraak word.

“Vervoer van melk, kunsmis en voer gaan duurder word, en dit druk die hele waardeketting op. Boere is bekommerd oor beskikbaarheid en koste van kunsmis. Sommige oorweeg om ekstra diesel aan te koop, maar wetlike beperkings op stoorplek en hoeveelhede maak dit ingewikkeld.”

Sakeondernemings aan Tuinroete onder druk

Die styging in brandstofpryse raak ook die plaaslike sakeondernemings. Johannes Jumat, die voorsitter van die George-sakekamer, sê die konflik in die Midde-Ooste begin reeds merkbare impak hê.

“Die effek is duidelik: Bedryfskostes styg drasties, veral in sektore soos logistiek. Dit kan groei en beleggings belemmer.”

Ander bekommernisse

Hy waarsku ook oor die risiko van brandstoftekorte indien die oorlog voortduur.

“Suid-Afrika se voorrade is beperk en alternatiewe moet oorweeg word. Indirek gaan verbruikers die prys betaal, wat druk op middelklas en laerinkomste plaas.”

Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie het egter vroeër vandag gesê dat die land se brandstofvoorraad vir eers stabiel bly, ten spyte van groeiende onsekerheid in globale energiemarkte wat verband hou met geopolitieke spanning in die Midde-Ooste.

Die regering sê dat hulle nou saamwerk met rolspelers in die bedryf om beide ru-olie en geraffineerde petroleumprodukte van ‘n reeks verskaffers te bekom, met ‘n plan in plek om enige potensiële ontwrigtings te bestuur.

Daarby word die situasie volgens Jumat verder bemoeilik deur stygende elektrisiteitskoste na die onlangse goedkeuring deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika.

“’n Uitdagende tydperk lê vir plaaslike besighede voor. Ons hoop dat owerhede en die privaat sektor maatreëls kan tref om die impak van die krisis so lank as moontlik te absorbeer.”


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Back to top button