Boot ry oor man by gewilde hengelkompetisie in Sodwana

Dit is 'n wonderwerk dat hy lewe, sê Frikkie Kapp van Middelburg uit sy hospitaalbed in Durban ná 'n fratsongeluk tydens die Mynmanne-hengelkompetisie.

’n Boot het tydens die jaarlikse Mynmanne-hengelkompetisie by Sodwanabaai in KwaZulu-Natal oor Frikkie ‘Kappie’ Kapp, ‘n bekende in Middelburgse rugbykringe, gery.

Meer as 30 mans moes die boot van sowat een ton oplig om hom te bevry. Hy word tans in die intensiewe sorgeenheid van die Netcare St Augustine Hospitaal in Durban behandel, berig Middelburg Observer.

“Dit is ’n wonderwerk dat ek leef,” sê die Middelburg-rugbyklub agterspeler en afrigter.

Hy en sy vrou Judy-May is ook die eienaars van Judsies Geskenkwinkel in die Midwater-sentrum.

‘n Gewilde kompetisie

Dit was sy 39ste jaar as ‘meester van die strand’ by die groot hengelkompetisie, wat beskryf word as meer as net ’n visvangkompetisie – dit is ’n nalatenskap van broederskap, gemeenskap en onvergeetlike herinneringe in die mynbou- en mineraalbedryf.

Die Mynmanne word sedert 1977 aangebied en vind vanjaar vanaf Sondag tot more plaas.

‘Kappie’ (60) soos hy op Middelburg bekend is, het al in 1987 tydens die kompetisie op die strand begin werk as ’n trekkerdrywer.

Dit is deesdae sy werk om te sorg dat die bote na ’n dag se hengel, veilig op die strand lanseer. Hy het vanoggend uit sy hospitaalbed gesê, hy het met sy vlag op die strand gestaan, om te sorg dat die laaste boot van die dag veilig op die strand kom.

“Ek het gesien die boot kom na my rigting en het probeer om weg te kom, maar het in ’n gat getrap, gestruikel, my balans verloor en toe is die boot bo-oor my.”

Reddingspoging

Van die ander deelnemers het dadelik begin om hom onder die boot, waar hy vasgepen was, te probeer uitkry, deur die seesand weg te grawe en uiteindelik die boot op te lig.

My ore en oë, my mond, alles was vol sand. Ek het bloed en sand uitgespoeg,” onthou hy dié gebeure.

Omdat dit vier ure sou vat om hom op ’n pad vol slaggate by die hospitaal in Durban te kry, is besluit om ’n helikopter te ontbied. “Van hier af was ek in ’n beswyming en kan nie veel onthou nie.”

Hy het drie ribbes en sy sleutelbeen gebreek en ’n stuk van sy skouerblad waarvoor hy moontlik geopereer sal moet word. Die skouerblad vorm die agterkant van die skouergordel. By mense is dit ’n plat been, rofweg driehoekig in vorm.

“Ek weet ook nou wat beteken dit wanneer iemand sê hulle gaan jou gatvelle aftrek.” Die eienaar van die boot, wat glo baie sleg voel oor wat gebeur het, het hom gebel en gesê ‘van sy velle sit nog op die boot’.

Judy-May is op pad na Durban en daar sal later besluit word wanneer hy na Middelburg sal terugkeer. Indien hy geopereer word sal dit in Pretoria wees.

Behalwe dat hy die meester van die strand was is Kappie ook ’n erelid van die Mynmanne.

“Dit is diegene wat steeds langs ons loop en diegene wie se herinneringe in ons harte voortleef. Elke individu het bygedra tot die gees, krag en broederskap wat Mynmanne definieer. Ons vereer ons erelede met dankbaarheid vir hul voortgesette invloed, leiding en toewyding. Ons onthou ons gevalle broers nie net met hartseer nie, maar met diep respek en waardering vir die oomblikke wat gedeel is, die lesse wat geleer is, en die nalatenskap wat hulle agterlaat,” sê die groep op hulle webblad.

Soos altyd was die joviale Kappie vol kwinkslae: “Dat ’n boot nou moes regkry wat geen rugbyspeler oor al die jare kon doen nie…om my ribbes te breek.”

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button