Beroepsjagter van Modimolle se dood: Vrou vrygespreek op moordklag

Botes van der Merwe (48) se vrou, Chrisna, het gister weer in die die hooggeregshof in Polokwane verskyn op klagtes van moord en diefstal.

In ’n uitspraak wat baie inwoners nie verwag het nie, het die hooggeregshof in Polokwane gistermiddag vir Chrisna van der Merwe vrygespreek op klagtes van moord en diefstal ná die dood van haar man, Botes.

Die saak het groot opslae gemaak nadat die tragedie op 11 Desember 2018 in die Van der Merwe-egpaar se huis op die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle afgespeel het. Dit was beide se tweede huwelik.

Botes (48) is ná die skietvoorval dood in die egpaar se kamer aangetref deur sy dogter Celiné, wie die aand by die egpaar gekuier het. Chrisna is in ’n ernstige toestand, weens ‘n skietwond in haar maag, na ’n Pretoriase hospitaal toe geneem.

Die diefstalklagtes teen Van der Merwe het gevolg nadat ’n bedrag van R114 000 uit haar man se rekening op 21 Desember onttrek is.

In haar uitspraak het Regter Karin Leanne Pillay die staat se saak teen Van der Merwe gekap en gesê dat talle aspekte daarvan onvolledig is. Karin van Eck, ’n prokureur, Advokaat Piet Pistorius en dr. Llewelyn Curlewis het vir die verdediging opgetree en Advokaat Nkhetheni Munyai vir die staat.

Botes se dogters, Celiné en Jané, het die hofverrigtinge bygewoon.

“Die hof het bevind dat die bewyse wat deur die staat voorgelê is, nie Van der Merwe se skuld bo alle twyfel bewys het nie en dat niemand weet wat tussen die oorledene en die beskuldigde gebeur het nie, want dit was net hulle twee in die kamer.

“Die hof het verder bevind dat daar nie bo alle twyfel bevind kan word dat die beskuldigde intensioneel en onwettig opgetree het nie.

“Die bewyse wat voorgelê is kon ook nie bewys dat daar nalatigheid betrokke was nie en daarom het die hof die beskuldigde nie skuldig bevind nie,” het Mashudu Malabi-Dzhangi, die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Limpopo, aan Die Pos gesê.

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button