Aanlyn liefdeslenter: Bejaarde uit R700 000 bedrieg in ‘sweetheart scam’

‘n Vrou wat geglo het sy is in ‘n liefdevolle verhouding met ‘n buitelandse man kan nou selfs nie kos koop nie. Só het ‘n swendelaar al haar geld geneem.

’n Vrou in haar 70s is al haar pensioengeld kwyt nadat sy in die kloue van ‘n internet-swendelaar beland het wat haar laat glo het dat sy op haar oudag weer liefde gevind het.

Die vrou het by Mike Bolhuis, privaatondersoeker, gaan aanklop vir hulp nadat sy R700 000 oor ‘n tydperk van ‘n jaar aan haar ‘liefling’ oorbetaal en die liefde saam met haar geld opgedroog het.

Die swendelaar het haar in só ‘n benarde toestand gelos, dat sy tans nie geld het vir kos nie, nie dringende herstelwerk aan haar motor of huis kan doen nie en self haar gras moet sny, al het sy onlangs ‘n knievervanging gehad, omdat sy nie meer iemand kan betaal om dit te doen nie.

Eerste kontak is gewoonlik op sosiale media

Die saak is deur Bolshuis se Specialised Security Services (SSS) ondersoek. Hy sê die slagoffer het die swendelaar op sosiale media ontmoet. Hulle het daarna op Google Chat begin gesels.

Michael Allen, soos wat die swendelaar homself voorgestel het, was ‘n aantreklike, middeljarige Europese man wat glo vir ‘n maatskappy gewerk het wat oliebore in die see bedryf.

Alhoewel die persoon op die foto nie opgespoor kon word nie, het die swendelaar vermoedelik sy identiteit geskep deur foto’s van ‘n niks wetende man se sosiale media profiel af te steel. Op een van die foto’s kan ‘n trouring vaagweg aan die man se hand gesien word. (Omdat daar nie uitgereik kon word na die persoon wie se identiteit gesteel is nie, gaan sy foto nie gepubliseer word nie.)

Die man se foto is wel sover terug as 2019 op ‘n Franse blog, wat waarsku teen swendelaars, opgespoor.

Foto’s van sy werk op oliebore is teruggespoor na fotovoorraad webtuistes soos Shutterstock en Pexels.

Die foto’s wat die swendelaar van ‘sy werkplek’ aan die slagoffer gestuur het en waar dit vandaan kom. Foto: Verskaf.

 

Soos wat die verhouding gevorder het, het die versoeke vir geld subtiel begin. Dit het later gegrens aan verregaande, maar teen daardie tyd was die gesegde ‘die liefde is blind’ reeds in volle swang.

Blinde liefde glo belaglike bogstories

Daar was onder meer ‘n voorval waar ‘Allen’ se bootkaartjie glo sou verval en die slagoffer daarvoor betaal het om te keer dat hy gestrand gelaat word.

Met ‘n ander voorval was daar ‘n €13 miljoen (nagenoeg R258 miljoen)-betaling wat gewag het vir werk wat kamtig op ‘n olieboor se pyplyn gedoen is, waarvoor die slagoffer ‘n administrasie fooi moes betaal sodat ‘Allen’ die fondse kon bekom.

‘n Derde keer was Allen glo gyselaar geneem deur ‘n terroristegroep en moes die slagoffer ‘n losprys betaal. Daar was tot ‘n dreig-boodskap deur die groep, genaamd ‘Alhaji’, aan haar gestuur gevolg deur een waar ‘Allen’ kamtig vir sy lewe pleit.

Die kamtige dreigboodskap wat die slagoffer ontvang het. Foto: Verskaf.

 

In ’n stemboodskap van die swendelaar, wat hy aan die slagoffer gestuur het kort voor sy teater toe is vir haar knievervanging, kan ‘n mens duidelik hoor dat die man Engels praat met ‘n Afrika-aksent en glad nie Europees klink soos wat sy foto’s voorstel nie.

Die slagoffer weier tans om haar dogter om hulp te vra omdat sy te skaam is om aan haar te erken hoe sy al haar geld verloor het.

Vroue gewoonlik die teiken van liefdesslenters

Bolhuis sê dat vroue in 95% van gevalle die slagoffers van liefdesslenters is wat uit hul geld verkul word, terwyl mans meer slagoffers van seksuele-afpersing sake is.

Swendelaars ‘gooi lyne uit’ op sosiale media platforms en as een uit 100 probeerslae suksesvol is, was dit vir hulle die moeite werd.

Enige iemand wat baie op sosiale media is, soekend na liefde of geselskap is en gereeld digitaal met mense kommunikeer is ‘n moontlike teiken.

Bolhuis waarsku dat alle sosiale media platforms, maatsoek-apps en webtuistes deurspek is met swendelaars.

Met hierdie tipe swendelsake, beter bekend as sweetheart scams, is daar nooit enige fisiese kontak nie, al kan die verhouding vir jare voortduur. Alle kommunikasie vind digitaal en oor die foon plaas. Swendelaars is geolie om hul slagoffers in te trek.

“Hul hele identiteit is Hollywood created. Hulle stel hulself altyd voor as een of ander hoogsgekwalifiseerde persoon wat op soek is na liefde of eensaam is of êrens seergemaak is deur iemand. Dit is alles gefabriseer om die slagoffer in te trek,” sê Bolhuis.

Hy sê dat twee bejaarde dames in gevalle waarop hy gewerk het, onderskeidelik R15.7 miljoen en R7.4 miljoen aan swendelaars betaal het.

Beide dames het, nadat hulle al hul geld bestee en besittings verkoop het, sover gegaan om vriende en familielede te besteel.

“Die een tannie se laaste betaling was R200. En nou sit sy sonder kos. Die ander tannie het geld wat vir haar gestremde man se mediese versorging moes gaan geblaas en tot hul huis by die see en voertuie verkoop.”

Bolhuis sê dat SSS van beide kliënte weggestap het nadat hulle geweier het om oorweldigende bewyse wat gelewer is – dat die persone met wie hulle dink hulle verhoudings het nie bestaan nie – te glo.

“Dit is die ergste tipe verslawing. Die persoon kan later nie meer daarsonder nie. Mense sal letterlik hul siele verkoop om geld te kry.”

Swendelaars is bedrog-spesialiste wat selde aan die pen ry

Bolhuis sê dat daar net in sowat 3% van gevalle enige geld herwin of mense gearresteer word.

“Dit gebeur net as ons samewerking van internasionale entiteite soos die FBI en cybercrime units kry,” sê hy.

Hy sê SSS kan die swendelaars identifiseer, vasstel van watter land hulle af werk en watter bankrekeninge hulle gebruik. Hulle doen dan aansoek om elektroniese toestelle wat gebruik word op die swartlys te plaas, wat beteken dat dit onbruikbaar raak.

“Hulle is kenners as dit by geldwassery kom. Sodra die geld in ‘n rekening inbetaal word, skuif dit na vier of vyf rekeninge waarna daar fakture en kwitansies is vir kamtige werk gedoen.

“As dinge te warm raak vir die sindikate raak hulle ontslae van alles, stel ‘n nuwe netwerk op en begin van voor af.”

Bolhuis sê dat meeste van die tipe bedrogsake vanuit Afrika-lande bedryf word. Daar is dan ook gevalle waar dit van ander kontinente af plaasvind terwyl die minderheid deur Suid Afrikaners self, dikwels gevangenes in tronke, bedryf word.

Só loop jy ‘n risiko om ‘n slagoffer van swendelaars te word

Enige iemand wat te veel elektronies kommunikeer of sensitiewe inligting en foto’s van hulself op ‘n foon of rekenaar stoor is in gevaar.

Bolhuis waarsku teen gierigheid oor ‘winskopies’ op sosiale media en nuuskierigheid oor inhoud wat digitaal vir jou gestuur word.

“Jy is onder ‘n illusie as jy dink jy gesels privaat op WhatsApp of op die internet. Jy dink jy gaan net vinnig na foto van ‘n vrou se kanne kyk maar terwyl die sirkeltjie op jou foon draai soos wat die file oopmaak is jy lankal ­ge-hack.”

Bolhuis sê dat as jy agterkom jy word deur ‘n swendelaar ingedoen of iemand het toegang tot jou foon gekry, is dit heel moontlik te laat.

“Hulle het klaar jou inligting. En hackers dish daai nommers onder mekaar uit so dis baie moeilik om te stop.”

Hy sê dat die SSS maniere het om sulke sake te ondersoek en raai aan dat persone wat vermoed dat hulle slagoffers is, hom dadelik kontak.

Read original story on www.citizen.co.za

 
Back to top button