Leer hoe om selfgeldend te wees

Elke mens het die reg om met respek behandel te word en om te kies wat jy wil doen, dink en voel. Jy moet kan “nee” sê as iets jou nie aanstaan nie.

 

Staan jou man, sê jou sê

Mense wat sukkel om hulself te laat geld laat ander toe om meer onttrekkings uit hul lewe te maak as wat deposito’s “inbetaal” word.

As jy dit toelaat, beland jou selfbeeld en verhoudings kort voor lank in die rooi.

Elke mens het die reg om met respek behandel te word en om te kies wat jy wil doen, dink en voel. Jy moet kan “nee” sê as iets jou nie aanstaan nie.

Selfgelding is ’n noodsaaklike persoonlike en interpersoonlike vaardigheid wat kommunikasie oop, eerlik en duidelik hou en verseker dat jou eie en ander se regte en behoeftes gerespekteer word.

Selfgeldende mense handhaaf hulself en raak nie ander se slaaf of vloerlap, wat telkens die gemors opklaar, die werk doen of ander se verantwoordelikhede nakom nie.

Baie mense sien nie kans om selfgeldend op te tree nie omdat hulle dit met aggressiewe gedrag verwar. Hulle glo om jou wil en regte te laat geld verg meestal ’n aggressiewe tand-vir-’n-tand-benadering.

‘Elke mens verdien om met respek behandel te word en te kies wat jy wil doen, dink en voel’

 

Maar selfgelding is ’n kommunikasiestyl wat die balans tussen passiwiteit en aggressiwiteit vind.

Mense met ’n passiewe kommunikasiestyl probeer die vrede bewaar en ander tevrede en gelukkig hou, maar offer in die proses hul eie behoeftes en regte op. Hulle sal gou sê: “Wat julle ook al besluit, is reg met my.” Of hulle sal stilbly as hulle verskil. Om konflik en verwerping te vermy sal hulle liewer met opofferende liefde en diens ander bo hulself stel en in die proses word hul eie selfwaarde en selfvertroue geskaad.

Jy word dan ’n magtelose slagoffer van ander se aggressiewe, dwingende of behoeftige eise. Jy voel jy het nie ’n keuse wanneer ’n kollega, vriendin of kind die dag voor jou vakansie ’n klomp werk op jou aflaai, of wanneer jyself met werk oorlaai is nie. Jy kan nie weier nie en rasionaliseer dit met: Wat moet ek doen? Hulle het my nodig. Iemand moet dit doen. Of: Jy weet nie hoe hy is nie, jy gaan hom nie teë nie. Maar iewers in jou brand die onregverdigheid en bitterheid. Jy voel misbruik omdat jou program, tyd en emosies nie saak maak nie.

Mense met ’n aggressiewe kommunikasiestyl soek ’n posisie van wen en oorheersing: Hulle glo hulle het sterk persoonlikhede, weet wat hulle wil hê en hoe om dit te kry. Daarmee beheer hulle mense en ’n situasie deur hul wil, besluite en idees aan ander op te dwing. Hulle tree aanvallend op wanneer hulle teenstand kry en hanteer ander byna met minagting, asof hulle swakkelinge is.

Hul optrede word dikwels onbewustelik gedryf deur onderdrukte gevoelens van minderwaardigheid, woede en angs uit hul kinderjare. Toe het hulle moontlik nie die liefde, erkenning en aandag gekry waarna hulle gesmag het nie, of hul ouers het ’n aggressiewe kommunikasiestyl gehad. Hulle respekteer nie ander se grense, persoonlike ruimte, besluitnemingsregte en behoeftes nie en ontstel of vervreem mense met die optrede. Dikwels word fisieke of verbale geweld ingespan. Hul aggressiewe gedrag word gerasionaliseer as ’n reaksie op ander se optrede. Tog voel aggressiewe mense dikwels agterna skuldig en dit skaad selfrespek en verhoudings.

Lees ook: Leer hoe om nee te sê

 

 

Leer dit aan

Selfhandhawing is ’n vaardigheid wat aangeleer kan word en hou vir alle betrokkenes voordele in.

Maar dis nie altyd maklik om jou grense kalm en rustig te stel sodat ander sal hoor en sonder ontsteltenis daarop reageer nie. Jou selfvertroue hierin hang nie van ander se goedkeuring af nie, maar of jy jou man en woord kan staan, ongeag ander se goedkeuring en reaksie.

“Ek het ’n baie dominerende pa,” vertel ’n leser. “Van kleins af wou ek glad nie soos hy wees nie. Hy is altyd reg en almal moet na sy pype dans anders bars die hel om ons los. Ons eet waar hy wil, hou vakansie op ’n plek van sy keuse en saam met wie hy verkies. Langs die pad sal ons stop wanneer hy moeg is en waar hy wil. As ons iets wil sien, is daar nie tyd nie, of ons is veeleisend – selfs al het ons ’n nood, moet ons uithou. Ek het besluit ek sal nie so dominerend en opdringerig wees nie. Maar nou laat ek ander toe om ook met my te doen wat my pa gedoen het. Ek bly liewer stil en doen wat hulle vra. Dan voel ek ander respekteer my nie en misbruik my net. Binne my voel ek kwaad en het ’n stille weersin waaraan ek meestal in stilstuipe uiting gee.”

Hoekom sê mense “ja” as hulle eintlik “nee” wil sê?

Wanneer mense selfgeldend begin optree, wissel die reaksie van positief, neutraal tot negatief. Mense is aanvanklik nie noodwendig opgewonde daaroor nie, en kan selfs ontsteld wees, wat nie ’n treinongeluk is nie.

Op die lange duur sal ander jou toenemend respekteer en anders begin optree as jy sonder aggressie en met empatie en rustigheid selfgeldend begin optree. Selfgeldende optrede verminder stres en beloon jou ryklik met selfrespek, selfvertroue en geluk.

 

 

Toets jouself: Is jy selfgeldend?

Elke ja–antwoord op die volgende vrae of standpunte gee ’n aanduiding dat jy selfgeldend is.

1. Sal jy jou mening lug, al verskil die ander persoon van jou?  ja  nee

2. Keer jy dat ander hul verantwoordelikhede op jou afskuif?  ja  nee

3. Maak jy beswaar as iemand in ’n tou voor jou indruk?  ja  nee

4. Keer jy dat ander dinge namens jou besluit?  ja  nee

5. Sal jy in ’n restaurant vra dat swak diens of kos reggestel moet word?  ja  nee

6. Maak jy seker dat jy geleende goedere of geld terugkry?  ja  nee

7. Sê jy nee as jy iets nie wil doen of hê nie en laat jou nie emosioneel manipuleer nie?  ja  nee

8. Kan jy vir ander ’n guns vra?  ja  nee

9. Weet ander wat jy voel of dink?  ja  nee

10. Is jy seker dat ander jou nie sommer misbruik nie?  ja  nee

11. Sal jy sê as jy nie weet of verstaan nie, sonder vrees om oningelig te lyk?  ja  nee

12. Sal jy jou ongemaklikheid met ’n situasie vir vriende of familie duidelik maak?  ja  nee

 

 

Jy kan meer selfgeldend raak

 

 

Lees ook: Mede-afhanklikheid: vernietig jou liefde jou?

Die arikel Leer hoe om selfgeldend te wees het eerste in Rooi Rose verskyn.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version