Hoe om jou wintersklere reg weg te stoor

Soos wat die weer warmer word, begin baie van ons die dik wintersklere minder gebruik. Maak seker jy bêre dit behoorlik om volgende seisoen weer te benut.

 

1. Sorteer en organiseer

Pak al jou wintersklere uit (insluitende jasse en dik truie) en sorteer dit in drie hope: “om te was”, “vir die droogskoonmakers” en “skoon”. Moenie jou hoede, serpe en handskoene vergeet nie! Terwyl jy besig is, raak sommer ontslae van alles wat verouderd of beskadig is.

Kitswenk: Stof terselfdertyd jou rakke af en vee dit skoon.

2. Was dit voordat jy dit wegpak

Voordat jy jou wintersklere wegpak, was eers die klere wat jy onlangs gedra het en nog nie gewas het nie. As klere vir ’n lang tydperk gestoor word, kan vuil klere plae lok, ongewenste reuke veroorsaak en skimmel produseer. Klere wat parfuum, room, olies of sweet daarop het, kan geel vlekke veroorsaak. Deur hierdie prosedure te volg verseker jy ook dat jou klere skoon is wanneer jy dit weer wil dra.

Kitswenk: Doen sommer dieselfde met jou dik komberse.

 

3. Maak jou skoene skoon

Winterskoene kom dikwels in aanraking met modder. Maak elke paar deeglik skoon voordat jy dit wegpak – verwyder opgeboude vuilheid met ’n katoenlappie of skoenborsel. Dis dalk ook ’n goeie idee om die binnekante van skoene en stewels met ’n lappie wat in spiritus of mediese alkohol gedoop is, uit te vee. Dit sal klaarspeel met enige reuke. Moet ook nie vergeet om politoer of voedende leerroom op jou leerstewels te smeer en jou veters te was voordat jy dit wegpak nie.

4. Plastiekhouers 

Plastiekhouers is ideaal om klere wat nie delikaat is nie, te stoor. Vou netjies op en plaas die swaarste items, soos sweetpaktoppe, op die bodem van die houer. Sit hemde (netjies gevou) en rompe bo-op. Vakuumsakke help jou om ruimte te spaar, maar dit laat geen lug deur nie. Plastiekhouers werk tot ’n mate dieselfde, daarom is hulle ideaal om op die kort termyn jou klere te stoor. As jy klere vir meer as ’n seisoen of twee moet stoor, pak dit eerder in ’n katoensak of kartonboks.

 

5. Delikate items

Om jou delikate items te stoor verg ’n bietjie meer finesse: Wanneer jou delikate items van die droogskoonmakers terugkom, haal dit heel eerste uit die plastieksak – plastiek laat nie toe dat natuurlike vesel goed asemhaal nie. Vou elke item versigtig op in suurvrye papier voordat jy dit in ’n katoenhouer of ’n sloop wegpak.

 

6. Stoor jou truie só

In plaas daarvan om die truie op te hang, vou dit eerder netjies op. Dit is nooit ’n goeie plan om ’n trui op te hang nie, omdat dit maklik vorm verloor en uitrek. Plaas jou swaarste truie aan die onderkant van die houer. Moet ook nie jou houers te vol pak nie sodat jou trui steeds asem kan haal en sy gepofte wolstyl behou.

7. Insekte verpes kruie

Gebruik natuurlike kruie in plaas daarvan om skadelike motbolletjies wat met chemikalieë behandel is te gebruik. Motte verpes kruie soos laventel, roosmaryn, tiemie, gedroogde lemoenskil of sederhoutskyfies. Bind enige van hierdie kruie in ’n lugsakkie of sakdoek en plaas dit naby, maar nie direk op die kledingstuk nie.

8. Hang duur items

Hoewel delikate items versigtig gevou kan word, is dit veiliger om jou kosbaarste items eerder op te hang – soos deftige rokke, jasse, sy- en leeritems. Om seker te maak dat stof nie opgaar nie, gooi ’n kleresak met goeie ventilasie of ’n katoenlaken oor die klere.

9. Kies ’n goeie stoorplek

Hou jou stoorhouers en -sakke in ’n koel, donker en droë area waar daar goeie ventilasie is, byvoorbeeld onder ’n bed of in ’n gastekamer. Indien ’n kelder jou enigste opsie is, installeer ’n toestel wat die humiditeit en vogtigheid uit die lug kan absorbeer. Probeer egter die solder vermy, omdat dié vertrek geneig is om vinnig warm te word en hoë temperature kan veroorsaak dat jou klerevesels vinnig beskadig.

 

Lees nog: Detoks jou klerekas in ’n japtrap

Die artikel Hoe om jou wintersklere reg weg te stoor het eerste in Rooi Rose verskyn.

 

 

Exit mobile version