6 maniere om griep te klop

Sodra griep jou liggaam begin aanval, kan jy nie op jou maksimum presteer nie, maak nie saak hoe hard jy probeer nie. Probeer hierdie eenvoudige maniere om dié seisoen die snuffels te vermy.

 

Drink tee

Warm drankies is veral lekker gedurende die koue wintermaande. Drink bedags warm groentee met heuning. Die stoom van die tee stimuleer die klein haarsakkies in jou neus en help om vinniger van kieme ontslae te raak. Bonus: die heuning dien as ’n antibakteriese middel.

Proteïen is koning

’n Laeproteïendieet kan jou immuunstelsel vertraag. Kry hierdie winter meer proteïen in. Eiers vir ontbyt is ’n wonderlike manier om die dag mee te begin.

Superskoon in die kantoor

Jy mag dalk gespot word hieroor, maar jou kollegas gaan nie lag wanneer hulle griep kry nie. Ontsmet die oppervlaktes (gebruik ’n middel met ’n alkohol-basis) waaraan baie mense vat. Kieme leef op oppervlaktes! Moet ook nie vergeet om jou hande gereeld te was nie.

Jou eie pen

Dit klink dalk belaglik, maar dra jou eie pen saam met jou. Aangesien kieme op alle oppervlaktes leef, is dit beter om jou eie pen te gebruik wanneer jy dokumente in openbare plekke soos die bank of in jou dokter se spreekkamer moet teken. Jy kan dit selfs gebruik om jou bankkode by ’n OTM in te tik!

Masseer dit

Wie het ’n verskoning nodig om vir ’n massering te gaan? Masserings verlig nie net stres nie (wat ’n magneet vir kieme is), dit verhoog ook jou sirkulasie wat uiteindelik jou immuunstelsel versterk.

Vitamiene, vitamiene, vitamiene

Ons is almal vertroud met hierdie raad. Vitamien C doen wondere om jou immuunstelsel teen griep te beskerm. Neem elke dag vitamien C-tablette en drink ’n glas vars lemoensap. Aarbeie, pynappels, brokkoli en soetrissies is ook goeie bronne van vitamien C.

Lees ook: 5 redes waarom rooibos jou dermgesondheid en immuniteit hierdie winter kan verbeter

Die artikel 6 maniere om griep te klop het eerste in Rooi Rose verskyn.

Exit mobile version