Dra gordels so

Hier is ’n paar kitswenke vir as jy 'n gordel dra hierdie winter.

 

Gordel-moets

Onthou hierdie punte wanneer jy ’n gordel koop en aantrek.

Hou die gespe stylvol

Hoewel die bonkiger guur nou hoogmode is, beteken dit nie jy kan jou gordel met daardie groot cartoon-karakter uit jou kinderjare onder in jou kas gaan uitgrawe en dit weer dra nie. Fokus eerder op die breedte van die gordel as die grootte van die gespe. Dit is belangrik dat jou gespe en gordelband in verhouding met mekaar is. Dus, hoe breër die gordel om jou lyf, hoe groter kan die gespe wees. Ons is gaande oor die tendens waar daar baie detail op die gespe is: Dit is minimalisties, maar steeds besonders en uniek.

Pas by die geleentheid

’n Mens sal verbaas wees hoe groot ’n verskil gordels aan jou voorkoms kan maak – die kleur, grootte en styl speel alles ’n rol in die afronding van jou uitrusting. ’n Klassieke swart of bruin gordel bly ’n wenner vir enige geleentheid. As jy egter ’n meer formele geentheid, soos ’n troue, bywoon, is die gewilde silwer gordel ’n goeie keuse. Dun gordels word as tydloos beskou en smelt dikwels makliker by jou uitrusting in. Helder kleure het egter die afgelope paar seisoene die voorgrond ingetree en ons moedig jou aan om ook ’n gordel in jou gunsteling kleur te koop vir daardie avontuurlustige dae!

 

Lees ook: Verleng jou trui se lewe

Koop met ’n doel

Wil jy hê die gordel moet by jou uitrusting pas of moet dit uitstaan? Gordels wat die hooffokus van ’n voorkoms is, vereis dikwels dat die res van jou uitrusting eenvoudig moet wees. Dit beketen egter nie jy hoef “vervelig” aan te trek nie: ’n Kleurvolle gordel wat saam met ’n effekleurige uitrusting stileer word, vertoon ’n opvallende prentjie. Swart van kop tot toon is altyd ’n gewilde keuse, omdat dit die gekleurde gordel net nog meer laat uitstaan. Ontwepers soos Paul Smith bewys ons dat ’n mens ook met teksture in plaas van kleure kan eksperimenteer. Dra byvoorbeeld ’n blinker-gordel saam met ’n woljas of trui van dieselfde kleur en skep só ’n buitegewone effek aan jou voorkoms.

Gordel-moenies

Vermy hierdie algemene slaggate.

Té dun gordel

’n Dun gordel is die veilige opsie vir alle voorkomste, behalwe as jy die nuut-en-nou-trend wil probeer met oorgroootte baadjies en bonkige truie. ’n Dun gordel kan dan maklik tussen jou lae verdwyn en verloor sy doel. As jy dit saam met lospassende items wil aantrek, kies ’n breedte wat net so wyd is soos die breedte van jou vier vingers (sonder duim), sodat dit jou middel steeds beklemtoon. ’n Dun gordel werk goed by fyner style, soos knopieshemde of fyn gebreide truie.

Nie te lank wees nie

Daardie lang lip wat om jou lyf flap is net ’n irritasie en dis glad nie vleiend nie. Maak seker jou gordel is groot én klein genoeg vir jou liggaam. Meet jou gordel om jou heupe as ook jou middel en maak seker daar is een of twee gaatjies aan elke kant sodat jy dit volgens jou ligaamsgrootte en styl kan verstel.

Spaar op gordels

Gordels is iets waarby almal kan baat, of jy dit dra as tendens, of om jou broek bo te hou. Belê in ’n egte leergordel wat duursaam is en lank sal hou. Die gesegde “goedkoop koop is duur koop” is beslis hier van toepassing. Indien jy ’n buitegewone gordel koop om ’n tendens na te boots, is dit egter nie noodsaaklik om jou beursie dun te koop nie, veral as jy weet dit is net ’n tydelike kopie. Elke vrou moet ten minste een swart en/of bruin gordel besit van egte leer – dit pas by alles en sal jou nooit in die steek laat nie.

Hooffoto: Nothing Ahead vir Pexels

Lees ook: 9 modefoute wat jy onbewustelik maak

Die artikel Dra gordels so het eerste in Rooi Rose verskyn.

Exit mobile version