Lifestyle

5 dieetwenke wat vir almal werk

Een van die geheime van ’n suksesvolle dieet is om jou kanse op sukses vooraf te verbeter. Hier is vyf dinge wat mense help om reg te eet.

 

Net twee uit elke vyf mense hou na ’n maand nog by hul dieet! So wys Franse navorsing onder meer as 12 000 diëters. Dit wys jou net: dieet is selfs vir sjiek Franse vroue ’n moeilike uitdaging. Soos ons, sukkel hulle ook met die praktiese realiteite en beperkings van dieetriglyne.

Een van die geheime van ’n suksesvolle dieet is om jou kanse op sukses vooraf te verbeter. Hier is vyf dinge wat mense tipies vang. Moenie moed opgee nie. Stel hulle liewer reg, of nog beter: jy weet hulle gaan jou vroeër of later vang. Beplan vooraf intelligent en verhoog jou kanse op sukses dramaties.

Uitdaging 1

Jou sintuie word oorweldig KFC ruik ongelooflik lekker, en totaal onweerstaanbaar as jy honger is. Die wonderlike tekstuur van wortelkoek prikkel jou oë en herinner jou aan vorige gesellige kuiers om die teepot. Die prut van ’n kospot op die stoof laat jou onthou van jou ma se kos én liefde.

Oplossing Die beste verweer teen die aanloklike aromas, klanke en smake van kos is om ‘veilige kos’ en ontsnapplanne in plek te hê. Waarmee kan jy jouself bederf wat net so lekker is? Dalk volstruisbiltong in plaas van kitskos? As ’n vriendin jou vir koffie en koek nooi, kan jy voorstel dat julle liewer ontmoet vir ’n uur se stap? Dalk werk dit vir jou om kougom byderhand te hou.

Uitdaging 2

Feesvieringe fokus op kos ’n Vriendin se verjaardag behels ’n tafel wat kreun onder haar kookvernuf. Dis Kersfees, ’n werkspartytjie, hamburgerdag, naweek, koud, waatlemoentyd … Die rits eetgeleenthede is oneindig – en raak ook maklik jou verskoning. Hoe kan jy nié saameet nie?

Oplossing  Die geheim is om te lýk asof jy meedoen aan eet, terwyl jy eintlik saamdoen aan kuier … waaroor dit uiteindelik tog regtig gaan. Skep klein porsies in. Sit jou bordjie buite maklike bereik neer. Soek die skadeloosste opsies uit en fokus op gesels, eerder as kos.

Uitdaging 3

Jou dieetmoed het verdwyn Dit vra baie om vas te byt. Dag vir dag. Maande aaneen.

Oplossing Jy moet jou motivering terugwen, behou – en selfs opbou. Maar hoe?

Plato, daardie ongelooflike waarnemer van die mens, het al vier eeue voor Christus gesê menslike gedrag ontspring uit drie bronne: emosie, begeerte en persoonlike voordeel gebaseer op kennis en die gevoel dat jy suksesvol is.

Sit en dink aan die emosie wat jy op die oomblik ervaar: wat kan die emosie van sukses en entoesiasme by jou laat opvlam? Werk praatjies oor sukses vir jou? Ons kan TED Talks aanbeveel.

Sit weer en dink: waarom wou jy gister dieet? Is dit die matriekafskeid of jou dogter se troue … en al die foto’s? Watter voordele gaan jy wen as jy vandag vasbyt?

Dink dan nog ’n rukkie langer: wat het jou verlede keer deur hierdie moeras van ongemotiveerdheid getrek? As dit voorheen gewerk het, sal dit weer werk!

Lees ook: Goeie energieplanne wat altyd werk

Uitdaging 4

Dit is ’n ‘niemand het my lief nie’ dag Kos troos góéd.

Oplossing Jy het n bietjie liefde nodig. Mens-tot-mens kontak. Bel iemand. Of ‘koop’ ’n bietjie aandag deur jou hare of naels te laat doen. Wie het jy met wie jy jou broosheid kan deel? Ons is almal te bang om ons swakhede te deel, maar ás mens dit die slag waag, is mens byna altyd verras oor hoe ondersteunend ware vriendinne is.

Lees: Eet is nie die enigste manier om beter te voel nie

Uitdaging 5

Die situasie is buite jou beheer Jy is werklik honger en al wat beskikbaar is, is sjokolade. Franse navorsing wys dat 73% van diëters dieetfrustrasie ervaar weens beperkte koskeuse en/of omdat dit nie by hul dagprogram inpas nie.

Oplossing Sorg dat jy altyd ‘oukei’ kosse naby jou het. Dinge soos chai-tee, wortelstokkies, laekilojoule beskuitjies, kilojoule-vrye koeldrank, biltong … wat ookal jou dieet as ‘vrylik’ toelaat.

Beplan ’n stoorplek vir jou noodvoorraad, sodat dit juis in noodgevalle byderhand sal wees, soos jou lessenaar se laai, in jou werksak of in jou motor.

Lees ook: 5 laekoolhidraat-happies wat jy nou moet maak

Die artikel Vyf dieetwenke wat vir almal werk het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

 
Back to top button