Lifestyle

Stuit die stres met stokperdjies

Kenners meen al daai klein duiwels wat jou stresvlakke tot in die rooi jaag is skoon vergete wanneer jou hande en jou hart besig is met iets wat vir jou lekker is.

Dit was in daai rowwe en absoluut onbekende eerste maande nadat Covid-19 ons getref het, wat ’n vriendin haar eers tot hars, en toe tot klei, gewend het. Sy het, net soos duisende ander Suid-Afrikaners, tuis en boonop sonder werk gesit nadat die organisasie vir wie sy gewerk het sy deure moes sluit. Uit hars het sy die fynste juwele begin maak. Oorbelle en hangertjies waarin die mooiste blommetjies uit ’n fyntuin gepryk het. Later, toe sy opgespeel was met die hars, het sy juwele uit klei begin maak. Gerol, gedraai, met vorms gedruk. Dit alles, vertel sy, het haar gedagtes op mooi dinge gefokus. Sy was heeldag op soek na mooi blomme wat sy kon pars vir die juwele, of nuwe idees om uit klei te maak, het kleure gemeng om nuwe, unieke kleikleure te maak. Ure sou verbyglip sonder dat sy eintlik van tyd bewus was. Dit was haar terapie. ’n Manier om haar gedagtes te orden in ’n wêreld waar min dinge eintlik meer georden was.

Dít is omdat kreatiwiteit jou stresvlakke tem, meen kenners. Wanneer jou hande en jou hart besig is met iets wat vir jou lekker is, kan jy sommer voel hoe jy weer asem haal en jou lyf ’n ander ritme kry. Al daai klein duiwels wat jou stresvlakke tot in die rooi jaag is skoon vergete. Jy is kalm en gefokus, sê Sarah Pace, ’n aanlyn gesondheidsafrigter van Arizona in Amerika. Sy meen wanneer jy jou hele lyf gebruik vir byvoorbeeld dans, of jou hande om te teken of te verf, stoot jou brein die stres opsy en maak dit plek vir kreatiwiteit. Dit is gelykstaande aan meditasie, sê sy. Jou brein stel dopamien vry en jou asemhaling verstadig.

Armand Prinsloo, spesialis welstandberader by die Vita Nova Beradingsentrum in Pretoria, sê boonop is stokperdjies belangrik vir ons volgehoue ontwikkeling. Hy verduidelik, “Dit verbeter lewensgehalte, want dit gee ons iets lekker, interessant en uitdagend om in ons vrye tyd te doen, sowel as ’n gevoel van doelgerigtheid buite werk en gesinslewe. Jy  moet ’n werk-lewe-balans vind sodat jy nie oorwerk of te ontspanne is nie. Stokperdjies kan selfs jou lewe op onverwagte maniere verbeter, soos om jou geestesgesondheid te verbeter. Met soveel opsies (van stokperdjies) is daar beslis ’n perfekte stokperdjie vir jou, vir sommiges waarskynlik meer as een.”

’n Stokperdjie of ’n spesifieke belangstelling is bloot ’n aktiwiteit wat vir pret en plesier gedoen word, gewoonlik buite die werk of gesinslewe. Die meeste mense het ’n verskeidenheid stokperdjies wat hulle gebruik om aan die einde van ’n lang dag te ontspan terwyl hulle kognitief produktief bly.

“Die beoefening van stokperdjies skep ook die geleentheid vir ons om tydens die aktiwiteit te reflekteer oor self en omstandighede,” sê Armand.

René-Jean van der Berg, sosiale-media-koördineerder van die Universiteit Stellenbosch, sê brei was haar redding nadat haar ma kort voor die pandemie oorlede is. “My ma was ’n breier en sy is kort voor die uitbraak van die pandemie oorlede. Sy was lief daarvoor om iemand by haar te hê terwyl sy brei. Dan het sy jou van alles en almal vertel as sy so sit en brei, sommer ’n hele babatruitjie klaar. Al wat jy moet doen is luister, koffie aandra en jou mond hou as sy steke moet tel of die patroon verder moet lees.

“Een middag, toe die pyn en verlange na my ma weer aan my hart kom ruk en ek nie eers asem kon haal van die seer nie, spoor ek uit die bloute ’n bol wol en breipenne op in ’n kartondoos van die keer tien jaar gelede toe ek ook probeer brei het. Saam met ’n Youtube-video, brei ek toe vir my ’n paar sokkies. Toe my ouma dit sien, toe kry haar voete ook skielik koud en moet ek op die daad vir haar ook ’n paar brei.

“’n Snaakse ding het gebeur toe ek begin brei – ek het minder van verlange gehuil. Dit was amper asof ek haar teenwoordigheid kon voel as ek brei. Terwyl ek sit en rye brei, het ek al haar sêgoed en staaltjies onthou.

“Nog ’n ding het gebeur toe ek begin brei. Ek kon skielik ingewikkelde kwessies oplos. My werk vereis dat ek heeltyd baie strategies én kreatief moet dink. Dit is soms moeilik en uitputtend. So, wanneer ek met ’n werkprobleem sukkel of net my brein wil ruskans gee, gaan sit ek en regs-aweregs ek vir 30 minute. Dis nou al twee jaar en tientalle babatruitjies later,” sê sy.

Sue Stuart-Smith is ’n sielkundige en skrywer van die boek The Well Gardened Mind: The Restorative Power of Nature. Sy het deur haar liefde vir haar tuin en om vir haar plante te sorg besef dat “diep eksistensiële prosesse betrokke is in die skep en omgee vir ’n tuin”. Vir haar is tuinmaak baie meer as bloot die skep van ’n mooi en rustige spasie. Dit is ook ’n “kopruimte” (mental space) wat jou stilte gee sodat jy jou eie gedagtes kan hoor. Sy sê wanneer jy met jou hande in die tuin werk, onkruid uittrek, takke snoei, bevry jy jou gedagtes om deur emosies en probleme te werk. Deur vir jou plante te sorg, werk jy terselfdertyd in jou innerlike “tuin” en met tyd word ’n tuin verweef met jou sin van eie identiteit, en word dit ’n plek wat jou teen die rowwe aanslae van die lewe buffer.

Santa Topham, afgetrede fondswerwer vir ’n nie-winsgewende organisasie van Vereeniging, sê sy doen verskeie dinge om haar hande en gedagtes besig te hou, soos pottebakkery, skilder en teken, asook tuinwerk. Santa sê: “Vir my is die wegtree uit die alledaagse belangrik. Kleur en fantasie in illustrasies en skilderye steek grense van ouderdom oor en maak die jare tussen ses en 60 gelyk. Ek hou van dienlike kunsgoete soos mooi en enige eetware in die studio. Die ure in die studio voel nooit opgebruik nie, maar dit is asof dit bonustyd raak, want ’n mens se droomwêreld en realiteit raak verweef. Om truie te hekel is om stekie vir stekie myself en ander aan te trek met warmte van my hart en hande. Tuinwerk? Wel, ons ken die goedheid van grond …”

Adri van den Berg, ook ’n spesialiswelstandberader by die Vita Nova Beradingsentrum in Pretoria, sê dit is eenvoudig. Stresverligters gee jou die geleentheid om jou lewe te verbeter. “Stresverligters laat jou toe om te ontspan terwyl jou verstand soms lekker aktief bly. Dit bevorder goeie gesondheid en kan die risiko verminder om hoë bloeddruk te ontwikkel. ’n Paar uur van jou stokperdjie per week kan ook jou risiko vir depressie en demensie verlaag. Stresverligters help jou om jou gedagtes te herfokus op iets wat jy geniet.

Fisieke aktiwiteite veroorsaak chemiese veranderinge in jou liggaam wat help om stres te verminder. Jy kan die vrugte van ’n stokperdjie pluk, selfs al behels dit nie fisiese aktiwiteite nie. Om ’n kort breuk van die werk af te neem en iets te doen wat jy geniet, kan jou verstand verfris en jou beter voorberei om uitdagings in die toekoms die hoof te bied. Om ’n stokperdjie te hê kan baie voordelig vir ons geestesgesondheid wees.

Deur jou stokperdjies ontwikkel jy as individu. Elkeen van ons is uniek, daarom verskil ons stokperdjies en belangstellings. Wanneer ons ’n aktiwiteit vind wat ons geniet, kan ons dieper daarin delf. Dit bied jou ook die geleentheid om nuwe vaardighede by die werk aan te leer,” sê Anri.

Sy sê hulle sien ’n toename in gevalle van uitbranding en waar mense net ’n ongelooflike lewensmoegheid rapporteer. “Vandag se lewe is besiger as ooit. Baie sukkel om kop bo water te hou en die eise wat werk en ander verantwoordelikhede stel, is besig om sy tol te eis. ’n Gevoel van uitbranding, wanhoop en hulpeloosheid kom algemeen voor. Met dit in gedagte, is dit belangriker as ooit om daadwerklik aandag daaraan te skenk om ’n beter balans tussen werk en ontspanning te handhaaf en hier kan ’n gesonde stokperdjie of twee ’n ongelooflike positiewe rol speel,” sê sy.

Noudat jy die voordele van stokperdjies verstaan, is dit tyd om ’n paar te vind! Daar is talle stokperdjies wat in die gerief van jou eie huis gedoen kan word wat jou lewe sal verryk en vir jou vreugde sal bring sonder om te veel moeite te verg. Om met ’n spesifieke stokperdjie te begin, kan jy ’n aanlyn belangstellingstoets aflê om jou kennis oor daardie onderwerp te verbreed. Die moontlikhede vir nuwe stokperdjies is onbeperk, maar dit kom alles neer op wat jy geniet om te doen. Probeer sommige van die volgende stokperdjies: musiek (leer ’n instrument speel), lees (soveel nuwe boeke op die rak), tuinmaak, kook (probeer slow cooking – alles van die heel begin af), kuns en kultuur, joga, sluit aan by ’n stapklub. Moet egter nie bang wees om te eksperimenteer nie. Wat dit ook al is – skubaduik, rekspring (bungee), rekenaarspeletjies of skryfwerk – dit kan die beste stokperdjie wees wat jy nog ooit beoefen het.

Bykomende bronne: 

www.suestuartsmith.com

www.realsimple.com

Lees ook: Kry jou huis reg vir die winter

Die artikel Stuit die stres met stokperdjies het eerste in Rooi Rose vereskyn.

Related Articles

 
Back to top button