Lifestyle

Ons 20 beste grimeerwenke

Is jy al raadop met dieselfde ou grimeringtegnieke? Hier is 'n paar wenke wat jou grimeringvaardighede kan verbeter

 

1. Moenie onderlaag weggee omdat jy ’n skakering te lig of te donker gekoop het nie; gebruik dit om te kontoer. Donker om weg te steek en lig om te beklemtoon.

2. Lyk dadelik maerder deur verbronsingspoeier rondom jou gesig van oor tot oor op jou kaak te gebruik.

3. Jou blosser en jou lipstiffie moet in dieselfde kleurfamilie wees; perske-skakerings saam met bruine en oranje lipkleure en pienk saam met pienk of rooi.

4. Skud altyd oortollige blosser van jou grimeerkwassie af om te keer dat jou blosser mors of dat jou wange soos die van ’n “porseleinpop” lyk.

5. Blosser laat ook donker kringe minder sigbaar lyk; die warmer ondertone neutraliseer die kouer ondertoon van jou donker kringe.

6. Gebruik leë pilhouertjies (daardie deurskynende soort waarin jy jou week of dag se pille kan stoor) om lipstiffie wat gebreuk het te stoor.

7. As jy gesigpoeier aanwend, vee die kwassie ook sommer oor jou wimpers voordat jy maskara aanwend. Die poeier op jou wimpers sal dit laat voller lyk.

8. Druk jou boonste wimpers liggies terug en trek ’n fyn lyntjie in die binnekant van jou ooglid (die waterlyn) met vloeibare oogomlyner; dit sal jou wimpers voller laat lyk.

9. As jy nie ’n wenkbrou-kammetjie het nie, gebruik sommer ’n ou maskara-borseltjie.

10. ’n Truuk om jou wenkbroue voller te laat lyk: kam dit opwaarts.

11. Jy het nie spesiale wenkbroupoeier nodig nie; jy kan ’n oogskadu wat geen glinsterende dele bevat nie, en ’n skakering donkerder as jou wenkbroue is, saam met ’n ferm kwassie gebruik.

12. As jy jou wenkbroue invul, trek altyd strepies of gebruik die kwassie in dieselfde rigting as jou natuurlike haargroei sodat die strepies of poeier soos haartjies lyk.

13. As jy van plan is om swaarder ooggrimering te gebruik, begin met jou oë en wend daarna jou onderlaag en verbloemer aan. Anders mors die oogskadu dalk op jou wangbene of onder jou oë en dan moet jy weer jou onderlaag afhaal en aanwend.

14. ’n Romerige oogskadu is blitsig om aan te wend as jy haastig is.

15. Gebruik ligte oogskadu met ’n effense glinster in die binne-V van jou ; dit laat jou oë oper lyk.

16. Vermy donkerblou en swart skakerings op jou oë as jy met donker kringe sukkel; dit sal dit beklemtoon.

17. Rooi lipstiffie is die vinnigste manier om “gedoen” te lyk. ’n Ligte onderlaag, ’n bietjie blosser en maskara is al wat jy nodig het as jou tyd beperk is.

18. As jy moeg is vir jou natuurlike oogskadu en met kleur wil begin eksperimenteer, is diep pers (’n eiervrug skakering) die maklikste en ook ’n kleur wat wonderlik lyk by alle oogkleure. Jy kan dit saam met natuurlike of brons skakerings meng of selfs swart vir ’n meer dramatiese, rokerige voorkoms.

19. Gebruik eerder meer verbloemer om merkies te verdoesel en minder (swaar) onderlaag. Jou vel moet steeds deur jou onderlaag skyn. Kies ’n deursigtige poeier bo-oor om dit langer te laat aanbly.

20. Trek eerder ’n wit hemp as ’n swart hemp aan; die wit reflekteer lig op jou gesig. ’n Donker kleur kan ook donker kringe onder jou oë beklemtoon.

 

Die artikel Ons 20 beste grimeerwenke het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

Back to top button