Lifestyle

Kry só die beste uit jou sessie in die sauna

Sweet word al vir duisende jare as ’n gesondheidsbonus in baie kulture gesien. Lees hiér vir die beste wenke tot 'n goeie saunasessie.

 

Die Majans het 3 000 jaar gelede “sweethuise” gebruik en saunas is vir millenia reeds deel van die Finse kultuur.

 

Hoe haal jy die beste uit ’n sauna?

Alkohol en saunas is nie maats nie. Alkohol verhoog die risiko vir dehidrasie, lae bloeddruk en onreëlmatige hartklop wat jou risiko vir ’n skielike dood na ’n sessie in die sauna aansienlik verhoog.

• Moenie vir langer as 20 minute in die sauna bly nie. As jy vir die eerste keer ’n sauna gebruik, is dit ook wys om geleidelik te begin. Begin met vyf tot tien minute en soos jy gewoond raak aan die hitte kan jy dit vermeerder.

• Jy verloor ’n groot hoeveelheid vog deur sweet, so maak seker jy hidreer agterna weer. Drink twee tot vier glase water na ’n sessie.

• ’n Sauna mag gesond wees, maar bly weg as jy siek is. Praat eers met jou dokter as jy swanger is, enige mediese toestand óf lae bloeddruk het.

 

Studies stem saam

’n Studie deur die Universiteit van Eastern Finland het bevind dat ’n sauna se waarde ver wyer strek as net ontspanning en boonop voordele vir jou hart en kardiovaskulêre gesondheid inhou. Daar is bevind dat dit ’n direkte effek op jou bloeddruk, hartklop en vaskulêre gesondheid kan hê. Die studie het getoon dat die droë hitte van ’n sauna mense se sistoliese bloeddruk van 137 tot 130 mmHg verlaag het en die diastoliese druk van 82 na 785 mmHg. Die sistoliese druk was net tydelik, maar die diastoliese druk het selfs na 30 minute nog stabiel gebly.

’n Sauna hou dalk nie dieselfde voordele as oefening in nie, maar omdat dit sirkulasie verbeter, hou dit voordele vir jou kardiovaskulêre stelsel in. Volgens die studieleier verhoog die sauna jou liggaamstemperatuur met 3,5 grade Fahrenheit, wat veroorsaak dat jou bloedvate wyer raak en bloed makliker laat vloei. Sweet verwyder ook ekstra vloeistof uit jou liggaam wat bloeddruk verlaag.

Verder verhoog dit hitte jou hartklop ook geleidelik tot ’n gemiddeld van 120  – ongeveer dieselfde effek wat matige oefening sou hê. Dit beteken nie noodwendig dat ’n sauna net so gesond soos matige oefening is nie, maar dit hou tog voordele vir jou sirkulasie in.

*Die studie is gedoen op mense wat gemiddeld 51 jaar oud was en die saunas se temperatuur is by 73 °C gehou met ’n humiditeit teen 10 tot 20%. Onder ander omstandighede en in stoomkamers sou die resultate nie dieselfde gewees het nie.

 

Lees nog: Asemhalingoefeninge wat jou help om minder te stres

Die artikel Kry só die beste uit jou sessie in die sauna het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button