Lifestyle

Ken jy die raad teen sooibrand? Toets jouself

Sooibrand kan ‘n groot pretbederwer wees maar kan met ‘n paar klein lewenstyl veranderinge verdwyn. Vul die vraelys in om te sien waar jy jou lewe kan aanpas.

1. Sooibrand is ’n klagtetjie waarvoor jy nie jou dokter se tyd en jou geld hoef te mors nie. Eintlik moet jy skaam kry dat jy sooibrand het, want dit wys jy ooreet en vergryp jouself. Waar of vals?

Vals

As jy chroniese sooibrand het, moet jou dokter oordeel waarom. Sooibrand wat self binne ’n dag oorwaai, het waarskynlik te doen met jou eetgewoontes. Maar aanhoudende sooibrand kan ’n teken wees van magseer, prikkelbare dermsindroom, Barrettsindroom, pankreas-kanker, en so meer. Moenie net met sooibrand saamleef nie. Laat jou dokter daarna kyk.

 

2. Kleiner borde, poedingbakkies en opskepleppels kan sooibrand keer. Waar of vals?

Waar

Sooibrand ontstaan makliker as jy te veel eet. Enige manier wat jou help om kleiner porsies in te skep, is tot jou voordeel.

 

3. Ys in wyn help nie vir sooibrand nie. Waar of vals?

Waar

Dit gaan oor die hoeveelheid alkohol in jou glas. As jy jou glas vol maak en een ysblokkie bygooi, het jy nie minder wyn in jou glas nie. As jy egter jou glas net halfvol skink en dan sodawater of yswater byvoeg, het jy die helfte minder alkohol in jou glas. ’n Ander taktiek, as jy nie hou van waterige wyn nie, is om ’n glas water byderhand te hou en om die beurt water en wyn te drink. Jy drink dus baie stadiger, en gee jou maag langer kans om die alkohol te hanteer.

 

4. Alle wyn veroorsaak sooibrand. Waar of vals?

Waar

Maar jy kan soms met wyn wegkom. Soos in die vorige vraag gaan dit oor die hoeveelheid alkohol in die wyn. Die alkoholvlak in wyn kan so laag as 8% tot so hoog as 16% wees. Kyk na die etiket en kies spesifiek wyn met minder alkohol. Jy kan twee glasies lae alkohol-wyn drink vir elke een glas met 15-16% alkohol. As jy jou lae alkohol-wyn boonop met sodatwater of water verdun, spaar jy nog ’n slag.

Baie mense vind dat likeur na ete die laaste strooi is. Dit bevat nie net baie alkohol nie maar ook baie suiker.

Bier word aan sooibrand verbind. Dit gaan nie net oor alkohol nie, maar ook oor volume. ’n Bottel bier is gewoonlik 350 ml of 500 ml groot. Drink twee, en jy drink in werklikheid 3 koppies tot ’n liter vloeistof. G’n wonder jou maag is oorvol nie. Boonop verslap alkohol die maagklep. Die manier waarop jy dit drink, kan veroorsaak dat maaginhoud in jou keel opstoot, wat jy as sooibrand ervaar.

 

5. Jy skep van die skaapboud en los die sous omdat dit propvol vet is. Jy sit liewer lekker mentjellie of blatjang by. Sal dit werk om sooibrand te keer? Ja of nee?

Ongelukkig nie.

Dit is slim om minder vleissous te skep. Dit sal jou dus help. Maar al die ander souse, van blatjang, mentjellie, bruinsous, fluweelsous en mayonnaise tot monkey gland-, sampioen-, mosterd, tamatie- en soetrissiesous, bevat baie ekstra suiker, room en/of olie – en gaan jou probleem vererger. Net so stoot vla, room, roomys en poedingsouse die reeds ryk nagereg bo-oor jou sooibrandgrens. Probeer ’n lepel Bulgaarse jogurt as jy die soet met iets wil breek.

 

6. Dit help om sooibrand te keer as jy jou kos 30 keer kou. Waar of vals?

Waar.

Dit help beslis omdat goeie kouwerk spysvertering aanhelp. Jou speeksel bevat ensieme wat veral stysels begin afbreek. Groot stukke kos word moeiliker in die maag afgebreek, en kan jou spysvertering bemoeilik.

 

7. Vroue wat  mishandel word is meer geneig tot sooibrand. Waar of vals?

Die verrassende antwoord is ja.

Die rede? Stres. Stres, om enige rede, sneller by party mense sooibrand. Niemand verstaan nog hoe stresvlakke in die brein tot meer suur in die maag lei nie. Maar as jy gereeld met sooibrand sukkel, kan jy gerus kyk of jy genoeg dinge in plek het om stres te ontlaai – soos genoeg oefening en slaap.

 

8. Melktertkors veroorsaak eerder sooibrand as melktertvulsel. Waar of vals?

Waar.

As jy ’n bakker is, sal jy weet dat die kors met baie, baie botter gemaak word. Los die kors en spaar jouself die ekstra vet wat sooibrand veroorsaak. Die vulsel is in elk geval die lekkerste. Party soorte tertkorse is beter vir sooibrand as ander. Terte waar die vulsel in ’n broskors of bloot oor koekies oos Marie-beskuitjies of gemmerkoekies gegiet word, is baie beter vir sooibrandlyers as filo- en skilferkorsterte. Wees veral versigtig vir tertkorse wat van gekrummelde koekies gemaak word, waarby botter en suiker gegooi is. Net so is die ryk, soet versiersel die probleem eerder as die koek self. Terloops, koek en appeltert is vir die meeste sooibrandlyers ’n beter keuse as suurlemoenmeringuetert of kaaskoek. Die meel en appels verskaf vesel wat sooibrand help teenwerk.

 

9. Aspirien veroorsaak sooibrand. Waar of vals?

Dit kan waar wees vir jou.

Aspirien kan by party mense sooibrand veroorsaak. Talle ander medisyne kan ook sooibrand veroorsaak, soos sekere antibiotika, sekere medisynes vir cholesterol (niasien), diabetes, depressie (Prozac en sy generiese ekwivalente) en allergieë, asook estrogeen, kortisoon en selfs sekere aanvullers. As jy skielik met sooibrand sukkel, kyk of jy onlangs met nuwe medisyne begin het. Gesels met jou dokter of apteker oor alternatiewe.

 

10. Rou wortel help vir sooibrand. Waar of vals?

Waar, vir party mense.

Wortels bevat oplosbare vesel, wat help om ekstra vet te absorbeer. Dit sal egter nie help as die rede vir jou sooibrand iets anders as ooreet is nie. Jy moet die wortel net so rou eet. Moet dit nie rasper en saam met suiker, pynappel, jellie of suurlemoensap, soos vir wortelslaai, eet nie.

’n Skyfie harde kaas kan ook help. Kaas bevat rennien, ’n ensiem wat proteïen help afbreek. Kies harde kaas want dit bevat minder vet as sagte kaas, en jy wil juis nie nou ekstra vet inkry nie.

 

11. Alle soorte koffie veroorsaak sooibrand. Waar of vals?

Gelukkig is dit vals.

Jou arabika-koffies (Afrika-koffies) is baie minder suur as die robustaspesies.

Het jy al koudgetrekte koffie probeer? Koudgetrekte koffie is nie maar net koffie gegiet oor ys om dit koud te maak nie. Hierdie heerlik geurige fynproewerkoffie gee jou glo minder sooibrand omdat die kouetrek-metode min van die koffie-olies en sure wat sooibrand aanhelp, onttrek. Anders as wat mens dink, is dit nie nodig om kafeïen met kookwater uit die bone te onttrek nie. Kafeïen is wateroplosbaar en sal dus ook in koue water oplos. Dit neem net baie langer.

Kyk ook hoe jy jou koffie drink: Koffie met verromers, room, cuppacinos en so aan bevat ekstra room, sojavette, suiker en suikerstrope. As jy dit as afronding ná ’n ryk ete of saam met ’n ryk stuk koek eet, oorlaai jy jou spysverteringstelsel.

Drink ’n kleiner koppie koffie na ete. Die oorspronklike koffiekoppies was in elk geval die helfte van ’n teekoppie se grootte – nie die reusebeker wat baie mense vandag as standaard beskou nie.

 

 

Lees ook: Koudgetrekte koffie, die geheime raad vir sooibrand

Die artikel Ken jy die raad teen sooibrand? Toets jouself het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button