Kougom: Krisis of kougeld?

Kougom is dalk goed vir jou tande, maar die probleem is dat daar niks in die natuur of jou liggaan is wat die kougom kan afbreek nie.

Kougom met xylitol is goed vir jou tande, en daarom klop ons onsself op die skouer terwyl ons kou.

Maar nou begin omgewingskenners sê ons stukkies ou kougom doen ontsettend skade. Ons praat en maak werk van koeldrankstrooitjies terwyl kougom nog erger is. Dit verdien net soveel aandag.

Lees ook: Jy kan ’n plastiekvrye badkamer skep

Die probleem is dat daar niks in die natuur is wat die kougom kan afbreek nie. Jou liggaam verteer ook nie kougom nie – jy kou maar net tot die smaak daaruit is.

Die polimeer waarvan dit gemaak is, bly letterlik vir ewig in ons vullishope en omgewing. In die VSA word gereken dat daar reeds meer as een miljoen kubieke ton kougom per jaar gekou en weggegooi word. In Singapoer, die wêreld se skoonste stad, is kougom al jare lank verbode. Op plekke waar mense saamdrom en kuier, is dit die tweede grootste rommelkopseer naas sigaretstompies.

Lees ook: As tandsteen ’n probleem word … 

iStock/LuFeeTheBear

Ons het ’n herwinningsplan nodig, glo die Brit, Anna Bullus. Sy het vasgestel dat kougom van dieselfde soort rubber as fietsbinnebande gemaak word. Dit is dus herwinbaar – mits jy dit kan inwin.

Haar blink oplossing is die plasing van skokpienk kougomblikkies oral waar daar ’n probleem is en op dié manier die kougom te herwin. Heathrow-lughawe het haar blikke drie maande lank op die proef gestel. Sy kon haar oes insamel én Heathrow het meer as R200 000 aan skoonmaakkoste gespaar.

Die Universiteit van Winchester en die Great Western Railway het met dieselfde herwinningsplan begin en die resultate was ewe suksesvol. Anna het reeds begin met projekte om van skoensole tot koffiebekers van die herwinde materiaal te maak.

Klink mos na ’n plan wat ’n skerp plaaslike entrepreneur sommer nog in die nuwe maand op groot skaal sal kan aanpak …

iStock/Alexthq

Lees ook:

Ons wys jou hoe om tuis te herwin

Dink voor jy weggooi: Hier is slim herwinningswenke

Maak jou kind groen groot

10 stappe nader aan ’n zero waste-lewenstyl

Plastiek en jou gesondheid

9 maniere om plastiekvry te lewe

Die artikel Kougom: krisis of kougeld? het eerste in Rooi Rose verskyn.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version