Lifestyle

10 Wenke om tyd in die gim te spaar

Mens het nie altyd tyd om vir lank in die gim te wees nie. Al wat saak maak is hoe mens jou tyd bestee wanneer jy daar is.

1. Pak jou sak

Maak seker alles vir jou sessie is in jou sak. As jy een dag swem en die ander dae spin, hou twee verskillende sakke reg.

2. Op jou pad

Sorg dat jy jou roete en tyd uitwerk en gim toe gaan as jy in die omgewing is, soos soggens ná jy die kinders by die skool afgelaai het, of smiddae voor jy hulle oplaai. Dit spaar baie tyd en dis makliker om gemotiveerd te bly.

3. Oefen teenoorgestelde spiere direk na mekaar

Gebruik ’n ruskans om eerder ’n ander groep spiere te oefen en gaan dan dadelik terug om ’n volgende stel van die eerste groep spiere te doen.

4. Beplan jou roetine

Besluit vooraf wat jy in die gim gaan doen sodat jy gefokus bly. Kry ook alternatiewe oefeninge vir ingeval die apparaat wat jy wil gebruik, beset is.

5. Gaan in stiller tye

As die gim leeg is, hoef jy nooit te wag vir toerusting of ’n baan in die swembad nie, en is daar ook minder geleentheid om met mense te gesels. Kyk of dit moontlik is om sommige dae in die stiller tye te gaan.

6. Haal meer uit jou kardio-sessie met intervalle

As jy gewoond is om op die trapmeul te draf, kan jy jou spoed afwissel en so meer energie verbrand en jou fiksheid opstoot. Stap vir vyf minute, draf vir drie minute en hardloop vinniger vir twee minute. As dit te moeilik is, stap en draf vir 30 sekondes en hardloop vir 15 sekondes tot jy fikser is.

7. Opwarm bly belangrik

Jy het minstens vyf minute nodig om jou spiere warm te kry. Só voorkom jy beserings en maak jou sessie doeltreffend. Moenie die opwarming afskeep nie.

8. Moenie kuier nie

’n Mens kan maklik ’n klomp tyd mors deur elke nou en dan ’n praatjie aan te koop. Waarsku die geselsers dadelik dat jy min tyd het, dan dink hulle nie jy is ongeskik as jy nie wil gesels nie.

9. Vroeg uit die vere

Gaan soggens vroeg gim toe. Dis stiller en die meeste mense is gefokus om te oefen en werk toe te gaan. Later in die dag laai die krisisse op en verdamp jou tyd en entoesiasme.

10. Rus op die horlosie

Hou die sekondewyser dop as jy rus sodat 30 sekondes nie ’n minuut word nie.

 

Lees ook: Jy kán hierdie winter gemotiveerd bly vir oefening!

 

Die artikel 10 wenke om tyd in die gim te spaar het eers in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button