Lifestyle

Toks & Tjops se Sjef Vaatjie woeker met kooktalent

Die bekende sjef droom daarvan om oor ’n paar jaar ’n resepteboek te publiseer

Tommy Dickson, oftewel Toks & Tjops se Sjef Vaatjie, het met sy talent agter die kospotte en om die braaivleisvuur diep in Suid-Afrikaners se harte ingekruip.
Die Advertiser het by dié Northmead-inwoner gaan inloer om meer oor hom en sy merkwaardige loopbaan uit te vind.
Jy het jou liefde vir kosmaak by jou ouma gekry. Was sy die inspirasie agter jou besluit om ’n sjef te word?
My ouma kon kook soos min. As klein seuntjie het sy my geleer hoe om perskekonfyt, gemmerbier en toebroodjies te maak. Ek onthou die ou huis in Kimberley, ’n semi langs die polisiestasie. As ek na die “anderkantse” kombuis toe loop was daar altyd iets om te bak of maak. Vir daai rede, ja, en ek hou van kos waarmee mense kan vereenselwig. Dit is van lekker eet, goeie herinnering en tyd saam met geliefdes wat my geïnspireer het (daai ouma-tyd van gemmer rasper, stories hoor en lag, en soms huil as ons van oupa praat). Tot vandag toe maak ek gereeld haar resepte, een voorbeeld is gemmerbier nes my ouma my geleer het, nog steeds ook in die melk kan en elke ding.
Hoe het jou loopbaan ontvou?
Ek werk al meer as 20 jaar vir Weber en is betrokke by bemarking. As mens het Toks & Tjops my selfvertroue ’n hupstoot gegee. Ek het ook baie mense ontmoet. Een van my beste vriende het ek in Checkers ontmoet, ’n aanhanger wat gevra het vir ’n foto. Een staaltjie was op Kroonstad waar ek ’n potjiekos-kompetisie beoordeel het en opgeëindig het om ’n verfklas by te woon en ’n hoender horlosie te verf vir my kombuis. Dit is daai tye en herinneringe wat onvergeetlik is.
Jy is al vir meer as nege jaar deel van Toks & Tjops. Kan jy nog jou eerste dag voor die kameras onthou?
Daai eerste episode waar ek bang was ek gaan my woorde vergeet. Tokka terg my nou nog omdat ek het nie “woorde moes sê nie”. Ek was bang, maar tog opgewonde. Tot vandag toe iets om aan gewoond te raak.
Is daar enige agter-die-skerms staaltjies by Toks & Tjops wat jy kan vertel?
Daar is baie van hulle. Ons lag gereeld, en meer gereeld vir mekaar. Net voor ’n program wys ons soms vir ons gaste ons six packs, waar Breyts loshande wen en meeste of lag of geskok is oor my en Tokka s’n. Janina sê dan net: “ag nee julle”. Na ’n program probeer Janina gewoonlik ons gaste oortuig dat ons die kos weggooi totdat Toks en Breyts borde gryp en uitdeel, dan weet hulle sy terg net.
Hoe voel dit om saam met voormalige Springbok-rugbyspelers Toks van der Linde en Breyton Paulse te werk?
Toks en Breyton is mense-mense, so ook Janina. Toks sê gereeld: “Onthou voete op die grond julle, voete op die grond.” Hy is ’n plat-op-die-aarde mens wat sal tyd maak vir ’n geselsie en foto, so ook Breyton en Janina. By die studio hou Breyton daarvan om vir ons gaste koffie aan te bied. Tokka bied beskuit aan. Janina kuier ook net so lekker met die gaste.
Jy het ook al talle ander bekendes op die program ontmoet. Wie staan vir jou uit?
Bakkies Botha, Naas Botha, Joe Black, Leon Schuster en Mango Groove het vir my uitgestaan. Daar is eintlik so baie, die is in ’n neutedop. Ek hou van meeste bekendes.
Watter hoogtepunte van jou loopbaan kan jy uitsonder?
Een hoogtepunt, maar ook voorreg, is ek dink nie daar is baie meer mense wat kan sê dat hulle vir soveel bekendes gebraai het nie, en dit ook op lekker plekke.
Hoe het die pandemie jou loopbaan beïnvloed?
Toks & Tjops kon aangaan soos normaal, Weber het ons van die huise af laat werk. Bykomstighede was gestop. Dit is iets wat ek regtig baie mis, daai by ’n skool in Kroonstad gaan potjiekos beoordeel, by ’n fees braai, daai mense met wie jy kuier en ontmoet. Dit is hartseer.
Toks & Tjops het tydens die harde inperking van Zoom gebruik gemaak om op die kassie te bly. Hoe was daardie ervaring vir jou?
Dit was anders, ek het dit van my stoep af gedoen. Om te braai vir ’n kamera is nie pret nie en as jy ’n sjef is en die kamera moet rond beweeg kan dit snaaks raak. Gelukkig met mekaar se gesels en lag was daar nog ’n lekker vibe. En ek het na die tyd die kos wat ek gebraai het gaan uitdeel vir mense langs die pad en karwagte. Dit was nogal ’n lekker gevoel en iets wat ek beslis weer sal doen.
Vandag maak jy enigiets van droëwors tot beskuit, maar braai bly jou gunsteling. Waarom is braai vir jou spesiaal?
Weber was my matriekwerk. Ek het demonstrasies gedoen en so ’n deposito vir my eerste kar gespaar. Ek het na skool vir hulle begin werk en deur hulle studeer. Dit is ’n werk wat deel van my lewe geword het. Braai het deel van my DNS geword en is iets wat ek moeilik sal afleer.
Wat is volgende vir Sjef Vaatjie?
Ek sal graag in die volgende jaar of twee ’n resepteboek wil publiseer.
Wat is vyf interessante feite van jouself?
• Ek het die eerste langste braai rekord opgestel baie jare terug waar ek vir 24 uur aaneen gebraai het.
• Ek het direk na skool IT studeer en vyf jaar later eers om ‘n sjef te word.
• Ek is gaande oor rose en het huidiglik 32 roosbome in my tuin.
• Ek is ons gemeente se klankman.
• Ek versamel messe (knipmesse, jagmesse, en meer). Ek het al oor die 300 messe in my versameling.
Jy ontwikkel ook deesdae jou eie resepte. Kan jy jou gunsteling resep met ons deel?
Die Toks Gatsby
Bestanddele
600g rump of lendeskyf (sirloin) biefstuk
Olie
Six Gun-spesery
Sout en vars gemaalde swartpeper
1 groot stokbrood
Sagte botter
Vars, krakerige slaaiblare
2-3 ryp tamaties, in skywe gesny
2 uie, gekarameldiseerd
½ koppie Cheddar kaas, gerasper
½ koppie Gouda kaas, gerasper
½ koppie mayonnaise
½ teelepel peri-peri-poeier
Peppadews
Metode
Bedek die biefstuk met olie, smeer dan die Six Gun-spesery egalig aan. Dit is ideaal om die speserye ‘n paar uur of dag voor die tyd aan te smeer.
Braai die biefstuk oor ‘n hoë temperatuur teen vier minute per kant. Laat dit dan op ’n houtbord vir ’n paar minute afkoel
Terwyl die vleis afkoel, sny die brood langwerpig sonder om dit deur te sny en smeer botter aan die binnekant.
Terwyl die brood oop is, rooster die gebotterde kant oor die kole vir ’n minuut of twee.
Sit voor
Sit ’n paar slaaiblare op die onderste helfte van die brood. Voeg dan die tamatieskywe by.
Sny die biefstuk in dun repies en voeg dit by die stokbrood saam met die gekarmeldiseerde uie, kaas en peppadews.
Meng die peri-peri in die mayonnaise en smeer dit op die boonste helfde van die stokbrood.
Maak die broodjie toe en sny dit.

Lees Ook: Stylish braai areas

Lees Ook: Talented chef with a heart of an entrepreneur strives to be an inspiration

   

Related Articles

Back to top button