Lifestyle

Rymkletser het groot drome

Vanilla Dutchman se musiekloopbaan gaan van krag tot krag nadat hy besluit het om sy drome na te streef

Afrikaanse rymkletser Gareth Booth van Rynfield, Benoni, beter bekend as Vanilla Dutchman, is besig om sy stempel in die musiekbedryf af te druk.

Die Advertiser het by die talentvolle kunstenaar gaan inloer om meer uit te vind oor hom en sy loopbaan.

Vertel ons meer van jouself.
Ek is altyd vol verrassings, altyd lus vir nuwe uitdagings, altyd gereed vir ’n avontuur en ek glo vas in die “law of attraction”. Ek woon al my hele lewe lank in Benoni en Boksburg. Ek het ook twee jaar in Potchefstroom gebly. Mens kan maar sê ek het myself gevind terwyl ek daar gewerk het. Al was ek nie ’n student in Potch nie het ek wel ’n studentelewe daar gehad.

Hoe het jy in die musiekbedryf beland?
Ek het op 20 net besluit ek gaan my passie begin uitleef en ek het nooit teruggekyk nie.

Wat het jou geïnspireer om ’n musiekloopbaan te begin?
My broer (Peter Booth), wat ’n platejoggie is, het my geïnspireer om my droom na te streef. Ek was nog altyd mal oor rap-musiek. Op skool het ek begin “freestyle” vir my vriende en dit het net ’n groter en groter passie geword. Op 21 het ek gespaar om vir my studio toerusting te koop en ’n goeie vriend van my, Wayne De Souza, het my gehelp om my eerste liedjie op te neem.

Kan jy ’n paar hoogtepunte van jou loopbaan uitsonder?
Vir seker toe ek by David Gresham Records geteken is en toe ek verskeie TV- en radio-onderhoude begin doen het. Dit is ’n wonderlike gevoel om jou video op televisie te sien of ’n resensie oor jou musiek in die media te lees. Ek het ook al vir studente opgetree by Madison Avenue. Dit was lekker om saam met Mark Stent te werk. Ek het ook so paar verrassings wat voorlê vir 2021.

Jy skryf ook self liedjies. Waar kry jy jou inspirasie vandaan en wat maak die perfekte liedjie?
Ek vat gewoonlik ’n rympie wat in my kop is, pas dit op ’n ritme toe en van daar af begin my skryf proses. ’n Perfekte liedjie is wanneer jy uit jou hart uit skryf en nie net uit jou kop uit nie. Jy moet ook trots wees op wat jy skryf.

Hoe voel jy oor die sukses van twee van jou grootste treffers wat in 2020 vrygestel is, Boom! Skud Dit Af! (‘n duet saam met Cal D) en Tring Tring?
Ek is baie dankbaar daarvoor, maar vir my is dit belangrik om altyd nederig te bly. Ek begin nou eers.

 

Wie sal aanklank vind by jou musiek?
Enige iemand wat ’n liefde het vir musiek het.

Wat maak rymklets spesiaal?
Met rymklets kan mens baie meer sê en uit jou hart uit praat.

Hoe het Covid-19 jou loopbaan beïnvloed en hoe het jy die struikelblokke van die pandemie oorkom?
Die pandemie het gemaak dat ek op nuwe musiek fokus in plaas van regstreekse optredes. Ek is ook dankbaar vir ‘n ander werk wat my in staat gestel het om tyd aan my musiek te bestee.

Dink jy die musiekbedryf gaan ooit weer dieselfde wees?
Ja, ek glo so. Ek weet Covid-19 het ’n groot impak op die musiekbedryf gehad, maar dit is ’n industrie wat nooit sal kan stop nie – musiek en musiekoptredes is vir mense kos vir die siel.

Wat is volgende vir Vanilla Dutchman?
Baie, baie groot dinge. Julle sal moet wag en sien.

Is daar ’n kunstenaar saam met wie jy in die toekoms wil werk?
Definitief Jack Parow, Early B en Francois van Coke.

Kan jy vyf interessante feite oor jouself gee?
• Ek is nie bang vir uitdagings nie.
• Ek wag nie vir iets om in my skoot te val nie, ek werk hard vir alles wat ek bereik.
• Ek is lief vir vrede.
• My lewe is gebaseer op die film The Secret.
• Ek is mal oor jazz musiek en die klavier, al kan ek dit nie self speel nie.
Volg hom op Instagram: vanilladutchman en Facebook: VanillaDutchman

Also Read: Rudi Claase se loopbaan gaan steeds van krag tot krag

   

Related Articles

Back to top button